Local newsNews

Maree gebruik uitvoerende kunste om in gemeenskap te dien

David Maree is in 1976 in Heidelberg gebore en het na 44 jaar teruggekeer na sy geboortedorp om in die jeug en die gemeenskap van Heidelberg en Nigel te belê. 

Hy het sy BTech-graad in drama suksesvol deur die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in 2001 voltooi en spesialiseer in opvoedkundige teater en regie.  Sedert 2001 het hy meer as 40 teaterproduksies regisseer by nasionale kunstefeeste, bekende teaters en in gemeenskappe. Hy het oor ‘n tydperk van 17 jaar met uiteenlopende groepe mense gewerk, onder andere straatkinders in Johannesburg, Down-sindroom Vereniging, Irene-huis vir Verstandelike Gestremdes, Park Care Tehuis vir Bejaardes, Ethokomala School vir seuns in konflik met die wet en Baviaanspoort Korrektiewe Dienste.  Hy het ook produksies by die Vroue Landbou-unie, Solidariteit Helpende Hand, Khulisa sosiale ontwikkeling en Doulos Ministries gedoen.

Dit is hierdie ondervinding wat Maree nou in die gemeenskap van Heidelberg en Nigel wil belê. 

Een van David Maree se produksies wat hy geregisseer het. Maree wil sy ondervinding gebruik om in sy tuisdorp die gemeenskap te dien.

“Ek het nie drama studeer om ’n bekende akteur te word nie, maar om te fokus op hoe die uitvoerende kunste gebruik en aangewend kan word as ‘n instrument vir potensiële ontwikkeling, genesing en rehabilitasie in gemeenskappe,” het Maree vertel wat beoog om in Oktober drie programme in Nigel en Heidelberg van stapel te stuur. “God het my herinner dat die gawes en talente wat Hy vir my gegee het gebruik moet word om te dien.  Watter plek is dan beter om te dien as my geboortedorp?” het Maree gevra.

Die eerste projek is gemeenskapsteater. Die gemeenskap word by die ontwikkeling en aanbieding van ‘n toneelstuk betrek.  “Gemeenskapsteater is gefokus op persoonlike ontwikkeling met voordele soos selfvertroue, kreatiwiteit en empatie en dien ook as ’n emosionele uitlaatklep,” het Maree verduidelik.

Toegepaste teater is die tweede projek wat gebruik sal word as ‘n medium vir rehabilitasie.  “Dit is ‘n nuttige medium, nie net om die realiteit van mense wat met verslawing leef te verstaan en te kommunikeer nie, maar ook om vir hulle die geleenthede te bied om positiewe alternatiewe vir hul lewens raak te sien,” het Maree genoem.

Die derde projek, drama bedieningning, is die oordrag van die evangeliewaarhede aan Christene en nie-Christene deur middel van die uitvoerende kunste.  

“Daar sal weeklikse werksessies aangebied word, twee produksies en vier gemeenskapsuitreikprojekte per jaar. Die breër gemeenskap sal ook die geleentheid kry om as vrywillgers deel te wees van die produksiespan onder verskeie afdelings, soos kostuums, grimering, grafiese ontwerp, dekorbou, klank en beligting,” het Maree gesê.

Deelnemers sal in twee ouderdomsgroepe verdeel word: jeug tussen die ouderdom van 14 en 24 en volwassenes.

“Die positiewe impak wat gemeenskapsteater op ‘n gemeenskap se identiteit kan hê, is ‘n nederige maar energieke ervaring. Drama en teater skep ‘n netwerk van vriende wat saam kan lag, huil, stry, partytjie hou en vermaak vir die gemeenskappe bied. Deur gemeenskapsteater deelnemers het ek geleer dat die vreugde nie net in die applous lê nie, maar ook in persoonlike groei en vervulling,” het Maree afgesluit.

Vir meer besonderhede kan Maree by 072 770 5675 of [email protected] gekontak word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button