Bejaardes tydens huisroof verniel
"Overkruin is die afgelope 10 jaar bekend as een van die veiligste woonbuurte in die omgewing. Juis daarom is die onlangse skerp toename in misdaad en wrede aanvalle soos dié so ontstellend," sê Ren Moore (voorsitter van die Overkruin Sekuriteit Assosiasie (OSA). Dit volg nadat 'n bejaarde ma en haar dogter na 'n hospitaal geneem moes word nadat hulle ernstig beseer is nadat vier inbrekers hul woning se deur oopforseer het. Joyce Fourie (93) en haar dogter Sanet (60) woon in 'n kompleks in Kameeldoringlaan, Overkruin.

Volgens SAPD Heidelberg polisiewoordvoerder Kaptein Thivhulawi Tshilate het die huisroof en aanranding in die vroeë oggendure van 10 Oktober plaasgevind.
Volgens inligting het Sanet ongeveer 04:00 opgestaan en kort daarna ‘n geraas by die voordeur gehoor. Sy is toe deur die inbrekers oorval en ernstig aangerand. Die inbrekers het haar beveel om terug kamer toe te gaan, waar sy haar bejaarde ma wakker gemaak het. Die inbrekers het kaste begin deursoek en verskeie waardevolle items gebuit waarna hulle gevlug het.
Die polisie kan nie bevestig of die aanvallers te voet of met ‘n voertuig die woonbuurt betree het nie. Geen arrestasies is tot dusver gemaak nie.
“Die Bestuur van Overkruin Sekuriteits Assosiasie simpatiseer met die slagoffers en ons beplan addisionele strategie om die nuutste vlaag misdaad te voorkom,’ het Moore bevestig.
Volgens Moore bly Overkruin statisties een van die veiligste plekke om te woon, maar prakties bevestig die voorvalle dat die OSA se gereelde waarskuwings aan hul inwoners nie op dowe ore moet val nie. Misdaad neem toe en Overkruin is nie imuun hierteen nie. Sekuriteit is ‘n spanpoging.
“Misdadigers hou hul slagoffers fyn dop en identifiseer baie vinnig swak plekke in persoonlike sekuriteit. Ons operasionele bestuur waarsku ons inwoners lank reeds, en herhaaldelik, om te alle tye paraat te wees,” het Moore weer benadruk.
Veiligheid altyd eerste Moore versoek inwoners van Overkruin (en Heidelberg in geheel) om paraat te wees. Wees bewus van die gevare en tree op asof jy volgende geteiken gaan word. Knap jou persoonlike sekuriteitsmaatreëls op en let op die klein items. Is jou alarm aan en jou deure en vensters gesluit?
Het jy geskikte beligting en het jy onmiddelike toegang tot die noodnommers in jou area? Word deel van die bewegings in u area wat hulself beywer om ons gemeenskappe te beveilig.
Overkruin inwoners moet die buurt se 24/7 noodnommer 072-107-0954 byderhand hou in tye van enige noodgeval of wanneer jy vermoed dat ‘n misdaad in jou nabye omgewing plaasvind – dit is die een nommer waarna jy nie “later kan soek nie”. Moore het afgesluit dat inwoners by die sekuriteit inisiatiewe betrokke moet raak, wat die aanskaffing van ‘n radio om met die Fidelity gewapende reaksie voertuig kontak te hou, insluit.
Enige persoon wat inligting het wat die polisie in hul ondersoek kan help om die aanvallers aan te keer, kan inligting by Heidelberg SAPD by 016 341 0343/0361 aanmeld.
Alle inligting sal vertroulik hanteer word. Wenk: Wanneer inwoners persone of voertuie in hul areas opmerk wat verdag lyk, meld dit onmiddelik by die sektorhoof in jou area aan: Bergsig: George Booker 082-456-67534; Heidelberg Sentraal: Steven Olivier 082-570-2660; Rensburg: Ounie Coetzee 078-368-2857; Jordaanpark: Willem Sprong 083-611-9598; en in Overkruin 072-107-0954.




