Local newsNews

Leer ons mense ken

Martie Elizabeth Bezuidenhout van Nigel skryf en skilder onder die naam Elizabeth.

Sy is ongetroud en het geen kinders. Met haar liefde vir skryf het sy in Oktober die Grobler Prokereurs prys tydens INK sryf in Afrikaans se gala-aand ontvang.

Hoe lank skryf jy al gedigte?

My liefde vir skryf het tydens hoërskooldae begin met opstelle en ligsinnige rympies. My liefde vir poësie het eers heelwat later in my volwasse lewe begin posvat. Ek het my meer daarop begin toespits so twee jaar gelede.

Waaroor skryf jy die meeste?

My emosionele ervaringe.

Wat inspireer jou?

My sin om perspektief en innerlike vrede te vind. My liefde vir Afrikaans en kreatief met woorde om te gaan. My begeerte om ook die mooi uit die lewe te haal.

Wie is jou rolmodel as digter?

Ingrid Jonker asook my veelsydige digtersvriend Pieter van Rooyen, wie se sewende digbundel vroeg volgende jaar die lig gaan sien. Ek’t ook die resensie van sy vorige digbundel, Werklikheid en Waas, geskryf.

Het jy al vorige kompetisies gewen?

Hierdie was die eerste een waarvoor ek ingeskryf het. Altesaam 826 inskrywings van 162 digters is ontvang, waarvan 502 gedigte van agt verskeie versvorme in die bloemlesing Inkspraak 1 opgeneem is. Tweehonderd van die 502 gedigte is in die oorheersende meer gewilde digvorm, naamlik vryvorm en rym, afdeling opgeneem.

Dis ook die afdeling waarin my wengedig die Grobler Prokereurs toekenning gekry het. Dis wonderlik dat daar nog instansies is wat ons taal en letterkunde ondersteun. Die hoof beoordeelaar was taalaktivis, skrywer en digteres Susanna Elizabeth Grobler.

Watter gedig het die onlangse prys ontvang

Die toekenning het my onverwags verras. ‘n Ervaring wat ek nog nie digterlik kan verwoord of beskryf nie. My wen gedig was Vlindersterk liefde.

En liefde het onverwags veersag op my neergedaal
my oë kokon droomverstom
my broos kleurvol aangeraak
oopoë laat blom vlindervry gelaat
laat fladder warrel dwarrel
en ek’t tog dog nog so die liefde
tedersagsterk bevrydend
in ‘n vlinder se vlerke gevind

Het jy ’n digbundel wat gepubliseer is?

My gedigte is in drie gesamentelike digbundels opgeneem:

• Sterrehoop, waarvan ek ook die samesteller was vir Malherbe Uitgewers

• Die nuwe era groot verseboek 2020 (Malherbe Uitgewers)

• Inkspraak 1 waarin my gedigte onder andere wengedig ook opgeneem is en uitgegee word deur INK skryf in Afrikaans.

My eie digbundel is nog in die vooruitsig.

Het jy ander stokperdjies of spesiale belangstellings?

Skilder en fotografie. Ek skilder realisties en abstrak, waarvan laasgenoemde my gunsteling is. Abstrak stimuleer my vrydenke en is geensins ‘n direkte verwringing van realisme nie. Ek geniet wel die uitdaging en kuns om realisme getrou weer te gee. Fotografie leer my dat mooi in enigiets om jou te vinde is, jy moet net fokus. Dit foto’s help ook om my eie unieke realistiese skilderye te skilder.

As jy die mag het om net een probleem in die wêreld op te los, wat sou dit wees en waarom?

Haat. Soveel seer en probleme word uit haat gebore. Dink net as ons haat met liefde vervang. Die Bybel sê tereg die liefde oorwin alles.

Wat sou jy skryf van 2020

Vir my was dit ‘n jaar van geestelike vernuwing, dieper insig en waardering vir lewe.

Om niks as vanselfsprekend te aanvaar, maar alles nog meer te waardeer wat jy wel het. Ek het nooit besef hoeveel vryheid ons inderdaad gehad het totdat dit noodgedwone weggeneem is nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button