Local newsNews

Michelle van Niekerk

Michelle van Niekerk is lid van die Heigel Fotoklub en haar foto, ‘Beauty in the eye of the beholder’, was die wenfoto vir Oktober.

Sy is getroud, het geen kinders en woon in Nigel.

Hoe lank neem jy al fotos?

Vir die afgelope vyf jaar.

Hoe het jou liefde vir fotografie ontstaan?

Ek het altyd ‘n ander manier gehad om na dinge te kyk. My kreatiwiteit kon ek nooit regtig gebruik in die tipe dinge wat ek doen en van hou nie tot een dag, vyf jaar terug, in ‘n haarsalon waar tannie Christine Booysen my haar wildtuin foto’s gewys het en my vertel het van die Heigel Fotoklub. Ek was verlief en die volgende fotoklub byeenkoms was ek saam met haar. Daar het my hele storie begin.

Wat is die inspirasie agter jou fotografie?

Die mooie natuur en mense om my. Ek hou van foto’s wat mening en gevoel het. Hy moet met jou kan praat.

Wat is jou gunsteling foto’s om te neem?

Ek doen als, maar wat ek die meeste geniet is om “kunstipe” foto’s te maak van my eie foto’s wat ek neem. Ek maak ‘n storie van ‘n foto. Soos my eie skilderye van foto’s.

Wat is die mooiste foto wat jy al ooit geneem het?

‘n Huisie by die see toe ek nog nie ’n kamera gehad het nie. Ek het met ‘n ou selfoon foto’s geneem toe ek op die walvis staptoer was. Graag sal ek weer gaan, maar die keer met my kamera.

Wie is jou rolmodel as fotograaf?

Martin Barber.

Het jy al vorige fotografie kompetisies gewen?

Ek het verlede jaar die Marike Bruwer trofee gewen vir beste kreatiewe fotograaf in SA. Ek was ook in 2019 by die Heigel Fotoklub as fotograaf van die jaar aangewys. My foto’s was al in twee boeke gepubliseer en sal volgende jaar weer daarin verskyn (VSS Creative Top 10 Photographers 2018). Sewentien van my foto’s het in die boek verskyn. In 2019 het ek sewe top 10 wenners gehad en ook onlangs ‘runner-up’ in monochrome ope afdeling gewen by die N3TC Photographic Competition.

Het jy ander stokperdjies?

Tuinmaak en bak.

As jy oor enige gebeurtenis in die verlede, hede of toekoms sou kon foto’s neem, wat sou dit wees?

Verseker die natuur. Ek wil mense wys dat mens met ’n ander oog na die natuur kan kyk en kan bydra tot die beskerming daarvan.

Hoe sal jy 2020 in ‘n foto vasvang?

Dit sal ‘n foto wees van deurmekaar chaos.

Sal jy mense aanraai om fotografie as stokperdjie te beoefen?

Ja, definitief. Mens raak weg in ‘n ander wêreld en ontspan lekker. Jy sien die mooiste plekke en geniet dinge wat jy dalk nooit sou ervaar het nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button