George Booker en sy vrou Ansie altwee in hospitaal met Covid
Welbekende privaatspeurder, GPF-leier en slangvanger George Booker was tot 17 Januarie in die intensiewe eenheid van Life Suikerbosrand Hospitaal in ’n ernstige toestand nadat hy met Covid-19 gediagnoseer was.
Volgens Booker se dogter, Yolandi Boshoff, het haar pa op 7 Januarie ’n slang in Shalimar Ridge gaan vang.
Die slang het na hom gespoeg en hy het agteroor gestuier en geval.
Hy het op 8 Januarie begin siek voel, maar dit toegeskryf aan die val.
Teen 9 Januarie het hy kouekoors ontwikkel en nie reageer op sy vrou wat hom versorg het nie.
Volgens Yolandi was sy lippe en gesig blou. Hy is inderhaas opgeneem by die hospitaal met suurstofvlakke van onder 30.
Nadat sy seun, George Booker jnr, die hospitaal die Maandagoggend gekontak het, is hy ingelig dat sy pa in die vroeë ure van die oggend versleg het en na die intensiewe eenheid verplaas was.
Die dokter wat hom behandel het, het ook genoem dat sy lewe in gevaar was.
“My pa reis baie as deel van sy werk, maar hy is baie versigtig en kom al die Covid-19 protokols na.
Hy het nie ’n idee waar hy die virus kon optel nie,” het Yolandi gesê.
As gevolg van ’n nuwe mediese fonds se voorwaardes word Booker se hospitaalonkostes nie gedek nie en Yolandi het die gemeenskap gevra vir hulp.
“Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning en spoedige hulp van die gemeenskap en het tot dusver R120 000 van die R466 000 wat nodig is vir mediese sorg ingesamel,” het Yolandi vertel.
Booker se vrou Ansie is ook opgeneem in die hospitaal nadat sy simptome ontwikkel het. Sy het Dinsdag 19 Januarie positief getoets vir Covid.
Booker en sy vrou is tans in die Covid saal waar hulle aansterk. Albei se toestand is stabiel.
Enige een wat ‘n bydra wil maak tot George Booker se mediese onkoste kan Yolandi Boshoff by 071 877 9088 skakel.




