102 Goue jare vir Susie Stassen
Susie Stassen sal haar 102de verjaarsdag op 18 Februarie vier.
Sy is 1918 gebore, en in 1937 met Kühne Stassen getroud. Die egpaar het in 1939 vanaf Heidelberg verhuis na Nigel waar sy al 82 jaar woon.
Sy het oor die jare diep spore getrap en was by drie geleenthede burgemeestersvrou, twee maal saam met Kühne en eenmaal saam met Hannes Visagie, wat toe ongetroud was.
Sy was in Nigel toe Eeufeeslaan die einde van die dorp was en Jim Fouchepark nog in die veld was saam met die begraafplaas.
Haar drie kinders Johann, Dirk en Ina woon nog al drie in die dorp. Stassen is sedert Junie 2012 ‘n inwoner by die Tuiste vir Bejaardes Nigel, waar sy baie bemind is onder inwoners en personeel.
Sy is die afgelope tyd bedlêend, maar is ‘n sterk vrou, wat nou ook hierdie merkwaardige mylpaal bereik het.
Sy is derhalwe ‘n inspirasie vir baie om te sien dat daar nog veel is om voor te lewe na 80 en 90.




