Local news

Piet Retief-tweeling hoop spesiale brille sal leer vergemaklik

Twee gr. 2-leerders van Piet Retief is met Irlen-sindroom gediagnoseer en hul gesin vra ondersteuning vir behandeling en opvolgkoste.

Ná jare se gesukkel met lees, konsentrasie en hoofpyne het die negejarige tweelingbroers Quentin en Micheal van der Walt se ouers, Ben en Charlotte van der Walt, uiteindelik antwoorde gekry toe die seuns met Irlen-sindroom gediagnoseer is.

Die gr. 2-leerders aan Laerskool Piet Retief hoop nou om betyds die nodige behandeling te ontvang sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik.

Vir Charlotte en Ben was die moeilikste deel nie die diagnose nie, maar om jare lank te sien hoe hul seuns sukkel sonder om te weet waarom.

“Van kleins af het hulle gesukkel om te lees en te konsentreer. Hulle het gereeld gesê die woorde beweeg op die bladsy of lyk vaag. Hulle het ook dikwels hoofpyne en seer oë gehad nadat hulle gelees het,” het Charlotte vertel.

Ben en Charlotte erken dit is hartverskeurend om hul kinders só te sien worstel.

“Dit breek ’n mens se hart om te sien hoe hulle hul bes probeer, maar steeds worstel met daaglikse uitdagings wat ander kinders dalk nie ervaar nie. Die seuns probeer self baie dapper wees, maar die uitdagings raak hulle soms emosioneel,” sê sy.

Ná verskeie ondersoeke is die tweeling uiteindelik deur dr. Jacky Pretorius met Irlen-sindroom gediagnoseer.

Hul brein verwerk visuele inligting bloot anders, wat lees, konsentrasie en skoolwerk bemoeilik.

Helder ligte, wit papier en besige patrone kan ongemak veroorsaak.

Spesiale Irlen-filters en gekleurde brille kan help om die spanning te verminder. Die koste beloop R5 800 per kind vir die nodige toetse en brille, terwyl daar ook deurlopende reis- en opvolgkoste is omdat die tweeling elke ses maande weer geëvalueer moet word.

Die Van der Walt-gesin sê hulle is dankbaar vir die ondersteuning wat hulle reeds ontvang het en waardeer enige verdere hulp, gebede of bemoedigende woorde.

Enigeen wat ‘n bydrae wil maak, kan die volgende bankbesonderhede gebruik: African Bank; rekeningnaam: C van der Walt; rekeningnommer: 2010 886 4918; spaarrekening.

Lees meer oor Quentin en Micheal se persoonlike uitdagings, hul ouers se emosionele reis en hoe Irlen-sindroom hul daaglikse skoollewe beïnvloed in die Hoëvelder se gedrukte uitgawe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button