Erries kraai weer koning in Mpumalanga Kuns-kompetisie
Errie-leerders het presteer by die Mpumalanga Visuele Kuns- en Ontwerpkompetisie.
MBOMBELA – Leerlinge van Hoërskool Ermelo het deelgeneem aan die jaarlikse Mpumalanga Departement van Onderwys se Visuele Kuns- en Ontwerpkompetisie wat op 4 Augustus plaasgevind het.
Al die skole in Mpumalanga wat Visuele Kuns en Ontwerp aanbied, het aan die kompetisie deelgeneem, met ’n totaal van 219 inskrywings in Visuele Kuns.
Die tema vir vanjaar se kompetisie was, “STEAM – Science, Technology, Engineering, Art and Mathematics.”

Leerlinge moes kunswerke skep wat die tema op ’n kreatiewe en innoverende wyse visueel uitbeeld.
Verskeie Errie-leerlinge het gemiddelde bo 80% in die provinsie behaal.
Onder die gr. 11’s het Njabulo Matlala, Lida Gerber, Leché Korff en Tlhonolofatso Mofokeng dié prestasie behaal.

Die gr. 12-leerlinge wat bo 80% gemiddeld behaal het, is Abigail Ekermans, Andriett Boshoff, Shantel Khathide en Lynné Rademan.
Op individuele vlak het Mar-Louise Viljoen algeheel tweede in die provinsie geëindig, terwyl Madri van Niekerk die eerste plek in Mpumalanga behaal het.
Die Erries het ook vir die afgelope vyf jaar die wisseltrofee vir die beste Visuele Kuns-inskrywings in Mpumalanga gewen.



