Flip Henning is Ermelo se eie ‘cowboy’
"Hulle sê daar is niks so goed vir 'n mens se binnekant as die buitekant van 'n perd nie, en my binneste wou by my perd wees,"

’Dit is nie aldag dat ‘n mens ‘n opregte cowboy in lewende lywe in Suid-Afrika raakloop nie en nog minder op Ermelo.
Maar Ermelo spog wel met een in die persoon van Flip Henning, ‘n Afrikaanse boerseun wat ‘n hartstogtelike passie vir perde, honde en cowboys koester.
Die onderhoud met Flip het aanvanklik gegaan oor Prins, sy Palomino-perd wat nou reeds 30 jaar oud is en nog sy kant bring op die plaas saam met Flip se vrou, Tania, se Palomino, Desperado, ook reeds 27.
Ek word hartstogtelik en met opregtheid begroet deur Flip wat van kop tot toon getooi is in ‘n egte cowboy-uitrusting, van die ingevoerde cowboy-stewels tot die broek, gordel en hemp. Die prentjie word afgerond met ‘n lang swart Texas-styl jas, kompleet met Sheriff-wapen.
Ons betree die woonkamer wat van hoek tot kant behang is met cowboy- en Western-aandenkings. Daar is saals, tome, vangtoue, cowboy-stewels en -hoede, “six-shooters” en alles wat tot ‘n mens van cowboy spreek.
Flip se liefde vir perde het reeds in 1952 begin toe hy as tweejarige ‘n Shetland-ponie by sy pa gekry het.
Saam het Flip en sy ponie aan skoue deelgeneem en ‘n hegte band gevorm.
Tussen 1960 en 1970 het Flip en sy pa met Arabier-perde geteel en baie pryse tydens landbouskoue in die Lindley-omgewing en in die oos-Vrystaat met gimkanas ingepalm.
Flip wou van kleins af ‘n wildbewaarder word en ná sy skoolopleiding het hy, ondanks sy pa se wens dat hy ‘n bankamptenaar moes word, sy perd op ‘n goederetrein gelaai en met al sy besittings na Mica in die destydse Noord-Transvaal gery om wildbewaringswerk in die Hans Merensky-reservaat te doen.
Die avontuur het nie lank geduur nie.
Flip se pa het hom en sy perd teruggbring Lindley toe waar hy ses jaar lank in ‘n bank gewerk het.
Die hunkering na natuurbewaring het egter nie bedaar nie en ná vele aansoeke het Flip uiteindelik keuring gekry by Natuurbewaring en is tot sy groot vreugde na die Hans Merensky-reservaat gestuur.
“Die werk in die bank het my frustreer en vasgevang en ek wou vry wees . Hulle sê daar is niks so goed vir ‘n mens se binnekant as die buitekant van ‘n perd nie, en my binneste wou by my perd wees,” het Flip met passie in sy stem gesê.
Flip se kennismaking met Prins en Palominos het begin toe sy pa en sy broer die perd wou inspan. Hy het Prins by sy broer gekoop en dadelik is daar ‘n band gevorm.
“In 1999 het Prins dikkop-perdesiekte opgedoen, maar danksy die raad en behandeling van ‘n veearts het ons hom gesond gekry. In dieselfde jaar het ek en hy die Cowboy School op Rayton bygewoon waar ons eerste plek gekry het vir onder andere “breakaway”-, “roping”- en “cutting”-dissiplines,” het Flip vertel.
Van toe af het Flip en Prins heelwat besoeke op plase gedoen waar hulle met vangtoue (lassos) boere bygestaan het om kalwers en beeste te vang om gebrandmerk te word.
Flip en Tania se perde is albei in 2014 deur ‘n motor raakgery nadat hulle per ongeluk losgekom het.
“Daarna was die ou nie meer dieselfde nie en ons het maar met die ‘roping’ opgehou. Behalwe die Western-perdesport wat ons met die perde doen, bestee ons al ons beskikbare tyd om ‘trail riding’ op boere se plase te doen.
” Ek was my hele lewe ‘n cowboy en ek sê altyd ek is ten minste 150 jaar te laat gebore. Die perde is my lewe en my liefde vir hulle sal eendag saam met my doodgaan,” het Flip met oortuiging gesê.
















