Robyne maak planne vir Kuier en Klets in Augustus
Die Robyne het tydens hul Junie-vergadering planne beraam vir die volgende Kuier en Klets-byeenkoms, terwyl hul ook handwerk en ’n heerlike middagete geniet het.
ERMELO – Die Vrouelandbou-unie se Robyntak het op 9 Junie hulle maandelikse vergadering gehou en aan lede die geleentheid gebied het om in ’n ontspanne atmosfeer saam te kuier en toekomstige aktiwiteite te bespreek.
Een van die belangrikste gesprekspunte was die beplanning van die volgende Kuier en Klets-byeenkoms wat op 1 Augustus aangebied sal word.
Die vroue sien met groot verwagting uit na die oggend se program.
Tydens die bespreking is aangekondig dat Tamar Randell en dr. Van Graan deel van die dag se verrigtinge sal wees.
Verdere besonderhede oor die geleentheid sal later bekend gemaak word.
Die trekking van ’n prys het ook vir opgewondenheid gesorg. Francisca du Plessis is as die gelukkige wenner van ’n oornagsak aangewys.
Die wenlootjie is deur Carla Randell verkoop.
Die vroue is bederf met ’n middagete wat deur Roelien du Plessis en Almari Grobler voorberei is.
’n Borduurdemonstrasie deur Elize Boers het ook deel van die program gevorm.
Die vroue het die geleentheid gehad om borduurwerk op ’n sif te probeer en het ontdek dat die tegniek meer uitdagend is as wat dit aanvanklik lyk.
Die tak se volgende byeenkoms sal op 14 Julie plaasvind.







