Voertuie bots weer by kruising
Mense is moeg vir nuus oor botsings by kruising en soek aksie

BETHAL – Dit is vir niemand meer snaaks dat ongelukke by die kruising van Chris Hani- en Moses Kotanestraat voorkom nie.
Daarom sal dit ook nie vir mense ’n groot skok wees om te hoor dat nóg ’n ongeluk by dié kruising plaasgevind het nie.
Die skok sal egter groot wees wanneer iemand hul lewe by die kruising verloor.
Die Echo en Ridge Times het reeds verskeie kere die gevare by dié kruising onder die aandag van die kommunikasiebeampte van Sanral, me. Yolisa Pasipanodya, gebring, maar die verskonings hoop op en daar is tot dusver geen maatreëls in plek om doeltreffende instandhouding te doen nie.
Motoriste wat deur Bethal ry, is gewoonlik betrokke in ongelukke by die kruising, omdat hulle moontlik nie weet van die stopteken nie en omdat lyne op die pad nie sigbaar is nie.
Die Echo en Ridge Times het aan me. Pasipanodya gesê dat dit onaanvaarbaar is dat daar tot dusver geen antwoord was nie en dat die publiek eerder as skriftelike reaksie, ’n letterlike aksie wil sien om die kruising veiliger te maak.
Me. Pasipanodya is weer om kommentaar genader en kon nie teen druktyd kommentaar lewer nie.