BETHAL – Mnr. Julius Muller (50) is ’n kranige visserman wat sy lewe van hengel vir niks sal verruil nie.
Sy doek as baba was met hoeke in stede van haakspelde vasgemaak en hengel was vir hom sy grootste plesier sedert hy kan onthou.
Grootword saam met sy ses broers en twee susters was soms swaar en hy het skertsend gesê dat destyds se hengel bloot vir oorlewing was.
Sy pa was ’n bouer en het onder andere die parkeraadhuise op St Lucia gebou.
In dié tyd het mnr. Muller en sy bende broers “ge-gear” met stok en aas agter op die lorrie wat boumateriaal vervoer, saam getoer om vis te gaan vang.
Hulle het baie verhuis en dit was toe hy in Umkhuzi gebly het, dat hy sy eerste bass vasgekap het.
“Ek het nog vir my neef wat voor in die water naby my lyn gestaan het, gesê hy moet pad gee want hy stamp my stok, toe die knewel byt en nie van plan was om te los nie.”
Mnr. Muller het gesê dat hengel oor die tyd baie veranderinge ondergaan het vanaf die dae wat bruinbrood, heuning en kitskoffie die inding was.
“Daar is nou soveel ‘mutis’ jy weet nie meer wat om te koop nie.”
Hy het sy pa, wat nou 84 is, glo nou die dag toe hulle by die hengelwater was, aangespreek toe die vis nie wou byt nie.
“Dis omdat julle daardie jare al die vis uitgehaal het dat ons vandag so sukkel,” het hy gesê.
Wanneer die geleentheid hom voordoen, is mnr. Muller by die hengelwater en hy het onlangs ’n boot vir ’n appel en ei by sy skoonpa gekoop.
Na bykans agt maande se hrestelwerk, het hy onlangs die boot by Bethaldam gaan “natmaak”.
Mnr. Muller het gesê dat hy nie so erg gefokus is op die “big catch” nie, maar meer oor die liefde vir dié sport.
Sy viskas het allerlei snaakse middels en doepas, maar hy glo ook nog vas in die tradisionele wyse van ’n vetpens met brood, mielies of selfs ’n degie vang.
“Jare gelede kon ’n bruinbrood, mieliepit, erdwurm, kriek of klein krappie as ’n volledige viskas beskou word.
“Hengelaars gebruik egter deesdae floaties, tigernuts vir spesiehengel en verskeie harde of sagte kunsaas vir bass wat in enige hengelwinkel beskikbaar is.”
Mnr. Muller het gesê dat ’n skerp hoek, sterk lyn, klein hoekies vir lewendige aas en klein hoekies vir karp, omdat hulle monde so klein is, vir hom belangrik is.
Hy het ook gesê dat beginners die verskille tussen byvoorbeeld ’n bass en karp moet ken sodat wanneer hy aan die lyn is, jy weet hoe om hom in te katrol.
Volgens hom is ’n karp se mond baie sagter as die van ’n bass en daarom sal jy nie met dieselfde sterkte vaskap nie.
Lugdruk en die getye as jy by die see sou hengel, speel ook ’n rol.
“Daar is verskeie boeke om amateurs te help om kennis van al die honderde dinge waaruit hengel bestaan, te kan help.
“Een ding is egter vir seker en alle hengelaars stem ten minste daaroor saam en dit is dat as die goggatjie jou gebyt het, jy aan die sport verslaaf raak.”