BETHAL – Lede van die Sektor 3 en 4 GPF het op 31 Oktober by die N.G. Kerk Noordgemeente byeengekom om belangrike aspekte oor die stryd teen misdaad te bespreek.
Verskeie onderwerpe, maar veral die rol wat die munisipaliteit speel om buurte te beveilig, is tydens dié vergadering bespreek.
Mnr. Werner Herselman, GPF-voorsitter, is reeds vir bykans drie maande in gesprek met die Govan Mbeki Munisipaliteit oor ligte wat vir bykans ses jaar nie meer brand nie.
Volgens hom beweer die munisipaliteit dat hulle fokus op die straatligte by die ingange van die dorp is, maar een van die ingange is in die sektor waar mnr. Herselman voorsitter is.
Die ingang is vanaf Hendrina in Hollandstraat en hiér brand straatligte glad nie.
Mnr. Herselman het gesê dat dit dalk weer tyd is om te vergader met die relevante rolspelers om hulle te probeer oortuig om op te tree.
“Die feestyd is om die draai en dit is in dié tyd dat huisinbrake en soortgelyke misdaad toeneem.
“Sonder die samewerking van die munisipaliteit, is die GPF se hande afgekap.”
Mnr. Henry Masango, hoof van bemarkings- en kommunikasie van die munisipaliteit, kon nie teen druktyd kommentaat lewer nie.
Die volgende vergadering vind op 28 November omstreeks 6.30nm vanuit die N.G. Kerk Noorgemeente plaas.
Mense wat wil aansluit óf wat nie kan ry nie maar ’n geldelike skenking wil maak, kan mnr. Herselman skakel by 073 619 3294.