CrimeEditor's choiceGeneralNews

DWELMSMOUSE IS AKTIEF

‘Die dwelmprobleem in ons dorp, veral onder die jeug, is skrikwekkend’

“Die dwelmprobleem in ons dorp, veral onder die jeug, is skrikwekkend. Beklemtoon dit asseblief. Dwelmsmouse is aktief in ons dorp en hulle teiken ons jongmense. Dit gebeur nie net daar ver met ander mense nie, maar dit is in ons woonbuurte en besig om die lewens van ons jongmense te verwoes. Mense moet die omvang van dié euwel besef.”

Dit was die duidelike boodskap van ’n plaaslike dwelmspeurder nadat twee mense Maandagmid-dag by ’n woning in Hennie Maraisstraat in hegtenis geneem is nadat die dwelms “ecstacy” en “rocks” (kokaïne) ter waarde van R12 600 in hul besit gekry is.

Lede van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid en die K9-eenheid het op die perseel toegeslaan nadat inligting van die publiek ontvang is. Albei verdagtes het Dinsdag in die hof op Ermelo verskyn op aanklagtes van die besit van en handeldryf in dwelms.

Die verdagtes, ’n Nigeriese burger (36) en ’n Suid-Afrikaanse vrou (21), was ook in besit van minstens 10 selfone. Van die selfone behoort vermoedelik aan “kliente” wat dwelms op skuld koop en die fone as sekuriteit by die verdagtes agterlaat. Die foon word weer aan die koper terugbesorg sodra die skuld vereffen word.

Ouers en voogde word versoek om op die uitkyk te wees vir moontlike tekens van dwelmgebruik by hul kinders.

“Van die vernaamste tekens is gedurige of ontydige selfoonoproepe of boodskappe wat ontvang word of ’n toename in geheime oproepe na mense wat as ‘net iemand’ beskryf word. ’n Selfoon wat kort-kort verdwyn en as gesteel of misplaas aan die ouers verduidelik word, is ook ’n aanduiding.

“’n Ander teken is wanneer geld, juwele en elektroniese items uit die ouerhuis verdwyn,” het die speurder gesê. Hy het verder versoek dat ouers veral in die vakansietyd oplettend moet wees. “Die Desember-vakansie is lank en kinders raak verveeld. Die dwelmhan-delaars weet dit en stel hul lokvalle vir dié kinders,” het hy gewaarsku. “Plekke waar dwelms verkoop word, word gekenmerk deur ’n voortdurende toeloop van mense wat gereeld kort besoeke aflê. Verdagte aktiwiteit moet by die polisie aangemeld word sodat daar ondersoek ingestel kan word,” het die speurder gesê.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button