Ryskool loop deur onder vandale
Wikus en al die ander gestremde ruiters se rehabilitasieproses is afhanklik van die perde en enige verlies of beserings sal vir hulle ’n groot terugslag wees.
Kwaaddoeners teister sedert November verlede jaar die terapeutiese ryskool in Camdenlaan.
Volgens Erica Boersema, eienaar van dié ryskool, word hekke beskadig en die grensdrade geknip.
Verlede week alleen was die perdekamp se drade op vier verskillende plekke geknip. Behalwe vir motoriste se veiligheid, vrees Erica ook dat die perde gesteel of ernstig beseer word.
Die werkers is al gedwing om heeltyd gereedskap en ’n rol draad byderhand te hê. Ermelo Therapeutic Horse Riding is ’n nie-winsgewende organisasie wat daarop fokus om kinders met gebreke se lewensgehalte te verbeter.
Een van hulle suksesstories is dié van Wikus Botha wat in 2011 van die nek af verlam was nadat hy die slagoffer van ’n tref-en-trapongeluk was.
Fisioterapie, oefening, swem en deursettingsvermoë het gehelp om sy spiere weer sterker te maak tot waar hy vandag al met ’n rolstoel oor die weg kan kom, maar dit was van ses maande gelede toe hy met perdryterapie begin het, dat sy balans bykans elke week verbeter. Met Wikus se selfvertroue en ure se terapie is hy al in staat om die perd alleen te lei en kan hy al ’n paar treë met ’n loopraam en krukke loop.
Wikus en al die ander gestremde ruiters se rehabilitasieproses is afhanklik van die perde en enige verlies of beserings sal vir hulle ’n groot terugslag wees.
Volgens Erica, het hulle die hulp van die publiek nodig en versoek hulle dat as iemand of iets verdags opgemerk word, hulle haar by 082 338 8667 of Olivia by 079 511 7611 sal skakel.