Ermelo-fetusvonds in rioolnetwerk lei tot strafregtelike SAPD-ondersoek
Die rioolversamelpunt, bekend in Engels as ’n lifting station, is ’n gedeelte van die rioolaanleg waar nie-afbreekbare materiaal verwyder word.
ERMELO – ’n Fetus is die afgelope naweek in ’n rioolversamelpunt by Merino Mall gevind, waarna die SAPD ’n strafregtelike ondersoek na moontlike verberging van geboorte begin het.
Die rioolversamelpunt, bekend in Engels as ’n lifting station, is ’n gedeelte van die rioolaanleg waar nie-afbreekbare materiaal verwyder word.
’n Nadoodse ondersoek word volgens Lt.kol. Corné Kemp ook gedoen, maar die verslag is nog nie beskikbaar nie.
Die bevindings kan moontlik meer lig werp op hoe gevorderd die swangerskap was.
Volgens Morgan Lee du Plessis, bestuurder van Merino Mall, word die betrokke gedeelte van die rioolaanleg skoongemaak voordat die operateurs vir die dag afstaan.
Die operateurs het op Vrydag, 21 Augustus, om 16:00 afgesluit, waarna die fetus omstreeks 07:00 die volgende oggend gevind is.
Du Plessis het verduidelik dat toegang tot die betrokke gedeelte beperk is en dat lede van die publiek nie bloot daarheen kan loop nie.
Volgens haar sou die fetus waarskynlik deur ’n toilet in die rioolnetwerk beland het.
CCTV-beeldmateriaal van die winkelsentrum maak ook deel uit van die ondersoek en kan moontlik leidrade verskaf.
Die ondersoekbeampte sal skriftelik daarvoor moet aansoek doen en die voorgeskrewe proses moet volg om die beeldmateriaal te bekom.
Die ondersoek is nog hangende.



