Editor's choiceLocal newsNews

Wonderwerke gebeur nog

‘Dit waardeur ons is en die ondersteuning wat ons gehad het, kan ons nie in woorde uitdruk nie’

Mnr. Petrus von Wielligh is ná meer as twee maande in ’n Johannesburgse hospitaal eindelik terug op sy plaas Drinkwater buite Ermelo.

Hy is op 6 November verlede jaar baie ernstig beseer in ’n botsing met ’n ander motor waarvan die insittendes albei op slag dood is.

Petrus se kopvel is in die ongeluk losgeskeur, met die ontplooiing van sy bakkie se lugsak is sy hart gekneus, albei sy bene is gebreek en ’n skandering het aanvanklik getoon dat vier rugwerwels gekraak was. Hy was ses weke lank aan ’n ventilator gekoppel en moes dialise ondergaan omdat sy niere gaan staan het. Spesialiste het sy toestand met sy aankoms in Johannesburg as só bedenklik beskou dat hulle eers vier dae later met intensiewe behandeling begin het.

’n Gebedsketting is dadelik begin en Petrus se vrou, Mariaan, het Maandag aan die Hoëvelder gesê dit het hulle deur die moeilike tyd gedra. Hulle het nooit die belofte wat sy van God ontvang het dat Petrus ten volle sou herstel, betwyfel nie.

“Petrus het Maandag, 13 Januarie op die plaas aangekom, 100 persent gesond van sy kroontjie tot by sy knieë. Dis net sy linkerbeen wat die ergste seergekry het waarop hy vir die volgende twee weke geen gewig mag plaas nie, maar die ortopeed is positief dat hy die volle gebruik van sy been sal herwin.”

Van die beseerde rugwerwels is daar nou geen teken nie.

Sy tuiskoms was vir Petrus ’n baie emosionele ervaring. Die plaaswerkers het hom met ’n erewag by die ingang van die werf begroet en daarna in ’n kring om hom die Here gedank vir sy herstel en terugkeer na Drinkwater.

“Dis ’n pragtige tyd vir Petrus om op die plaas terug te wees. Toe hy weg is, was die mielies skaars op, maar ná die goeie reën staan hulle hoër as hy,” het Mariaan gesê.

Die Von Wiellighs se harte loop oor van dankbaarheid vir die wonderwerk wat hulle beleef het en sê dankie aan elkeen wat vir Petrus gebid het.

“Ons het ondervind dat die gemeenskap van Ermelo se gebede ons gedra het. Dankie vir al die hulp, hoe gering ookal, op die plaas en met die gastehuis. Al die besoeke, oproepe, SMSe en kaartjies was vir ons ’n ware bemoediging.”

Iemand wat ’n spesiale woord van dank verdien, is dr. Tommy Olivier wat binne vyf minute ná Petrus se opname in ’n plaaslike hospitaal daar was en ure lank gespook het om hom te stabiliseer sodat hy oorgeplaas kon word en ook al die nodige reëlings getref het vir ’n ambulans en ’n suster om hom te vergesel. Hy het sy verdere belangstelling in Petrus se vordering met persoonlike besoeke in Johannesburg en op die plaas getoon. Hannes van ER24 wat Petrus van die ongelukstoneel hospitaal toe vervoer het en Jan van MedLife wat hom vinnig en veilig in Johannesburg besorg het, sowel as ander ambulanspersoneel word hartlik bedank.

Twee oud-Ermeloërs, Betsie Lategan (Steenkamp) en Yvonne Sinclair (Nel), het hulle huise vir Mariaan oopgestel in al die tye wat sy in die stad moes wees en daarvoor “sal ek hulle nooit genoeg kan dankie sê nie. Dit waardeur ons is en die ondersteuning wat ons gehad het, kan ons nie in woorde uitdruk nie”.

Mariaan vra dat elkeen wat vir Petrus se herstel gebid het die Here nou ook sal dank dat Hy hulle gebede verhoor het.

“Ons hou eerskomende Sondag om 3.30nm ’n dankdiens op ons plaas en almal wat so goed vir ons was, is welkom om dit by te woon.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button