Sewe slapies voor Hoëveld Landboufees begin
Die skaap-, vee- en perdekampioenskappe tydens dié fees sal sorg dat die landbou-atmosfeer van dié fees nie verlore gaan nie.

Die Hoëveld Landboufees wat van 6 tot 8 Maart op die skouterrein plaasvind, belowe pret vir groot en klein.
Die skaap-, vee- en perdekampioenskappe tydens dié fees sal sorg dat die landbou-atmosfeer van dié fees nie verlore gaan nie.
Dié jaar word daar beoog om in die pluimvee-afdeling met 10 verskillende rasse te skou, Albert Lingevelder en Pieter Stoffber uit die Kaap sal as beoordelaars optree.
Die pluimvee-afdeling is ’n ope skou en skougangers kan ook ’n prys wen deur ’n hoender se gewig reg te raai.
Die perdekampioenskappe wat reeds Woensdag begin, beloof groot opwinding. Die kampioenskappe, wat teel- en ryklasse insluit , se prysuitdeling sal Vrydag om 13:00 plaasvind, waarna Erica Boersema van Ermelo Therapeutic Riding School se ruiters met verskillende grade van gestremdheid sal optree en beoordeel word – beslis ’n item om te ondersteun.
Sterkman Anton Franken, ’n parapleeg, gaan gehore na hul asems laat snak wanneer hy ’n drieton-trok gedurende die boeresport gaan trek.
Anton bied al jare die vertonings aan as motivering vir gestremdes.
Boeresport onder leiding van Oubaas de Jager sluit in items soos toutrek, eiergooi, sakresies, kruiwastoot, skyfskiet, paaltjiesvleg, hoendervang, donkieresies en sewes-raakrugby.
Bekende Afrikaanse kunstenaars sal saans op die verhoog wees.
Donderdagaand is Monique en Theuns Jordaan aan die beurt, Vrydagaand is dit Adam Tas en DJ Ossewa en Saterdagaand sluit David Fourie en Snotkop die skou af.
Armand die Singende Cowboy en sy perd sal ook weer deur die dag optree.
’n Miniverhoog sal deur die dag sorg vir musiek en vermaak.
Vir die kinders sal die pretpark weer die groot aantrekkingskrag wees en Ollie die Nar en ’n mini-sirkus sal ook sorg vir pret. Gesigverf en balonne wat in figuurtjies verander, sal ook die kinders naderlok.
Die rofstoei wat verlede jaar groot aftrek gekry het, sal Saterdag weer plaasvind.
Die kosstalletjies, restaurant en biertent sal sorg dat niemand honger of dors sal wees nie.
Vir die inkopielustiges sal die stalletjies in die sale en op die terrein meer as genoeg bied.
Ermelo Ladies Circle is vanjaar weer aan stuur van sake by die biertent wat van Donderdag tot Saterdag van 10:00 tot middernag oop sal wees.
Hou volgende week se Hoëvelder dop vir die volledige skouprogram.