Editor's choiceLocal newsNews

SERFIES TREK WIT JAS NÁ 40 JAAR UIT

“Dit was vir my ’n eer en ’n voorreg om vir my tuisdorp se mense van diens te wees."

Een van Ermelo se bekendste mediese praktisyns, dr. Wilhelm Serfontein, het besluit om ná 40 jaar in die beroep die tuig neer te lê.

As afskeidgeskenk het die personeel van die Mediclinic Ermelo ’n verrassing gereël wat dr. Serfontein en sy vrou, Daleen, onthou sal word.

Dr. Serfies, soos hy onder kollegas, hospitaalpersoneel en pasiënte bekend is, en Daleen is Vrydagaand by hul woning in Kleinstraat met ’n spoggerige Mercedes CLK 350 afslaankap deur “chauffeur” Kobus Neethling opgelaai en na die plaaslike vliegveld geneem. Die spogwa is goedgunstelik deur Dorothy van Travel Agencies in samewerking met De Wit Motors vir die geleentheid beskikbaar gestel.

By die vliegveld is hulle deur dr. Freddie Marx ingewag wat met sy Beechcraft Bonanza B35 gereed gestaan het om die egpaar op ’n laatmiddag besigtigingstoer van Ermelo vanuit die lug te neem.

Terug op moeder aarde, is die oorblufte paartjie weer in die “Merc” gelaai en soos wafferse BBP’s vir ’n rit deur die dorp geneem.

Met hul aankoms by die Mediclinic Ermelo het die personeel en kollegas ’n erewag langs ’n rooi tapyt gevorm, waarna dr. Serfontein en sy vrou in die konferensiekamer, oftewel “vliegtuig”, deur kollegas en hul gades onthaal is.

Omdat dr. Serfontein van plan is om tydens sy aftrede meer van die wêreld te sien, was die tema van die aand op reis geskoei, met smaaklike vingerhappies en versierings wat verskillende lande voorgestel het.

’n Kort videoboodskap van die bestuurder van die Hoëveld Mediclinic op Trichardt, mnr. Willem Schoombee, is gespeel, waarna die hospitaalbestuurder van die plaaslike Mediclinic, me. Welma Bertram, ook ’n afskeidsboodskap gelewer het.

Dr. Wilhelm Serfontein het as Dux-student in 1964 aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer, waarna hy sy diensplig voltooi het en later die graad M.B.ChB. aan die Universiteit van Pretoria verwerf het. Ná voltooiing van sy huisdokterjaar aan die destydse HF Verwoerd Hospitaal in Pretoria, het hy op 1 Januarie 1973 by die praktyk van drs. “Toefies” van Heerden en Le Roux van Niekerk op Ermelo aangesluit.

“Dit was vir my ’n eer en ’n voorreg om vir my tuisdorp se mense van diens te wees. Ek sien nou nog mense in die dorp wie se kinders, kleinkinders en agterkleinkinders ek in die wêreld help bring het en as pasiënte behandel het. Ek waardeer die vertroue wat my pasiënte en kollegas in my gestel het,” het hy aan die Hoëvelder gesê.

“Hoewel ek nie meer sal praktiseer nie, sal ek nog in die mediese beroep betrokke wil wees en insette wil lewer waar ek kan,” het hy bygevoeg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button