Tannie Miems vier een eeu plus een jaar
Tannie Miems spog met drie kleinkinders wat liefdevol na haar verwys as “Oumie”.
Tannie Miems Goosen, inwoner van die SAVF-Huis in Ermelo, het op 7 Maart 101 jaar oud geword.
Sy is in 1913 op die plaas Swartwater in die Bethal-distrik gebore, waar sy ook haar skoolopleiding by ’n plaasskool in die distrik ontvang het.
Tannie Miems het haar eerste administratiewe pos by Spath’s Garage in Piet Retief aanvaar en is in 1936 na Ermelo verplaas waar sy haar dienste vir dieselfde maatskappy voortgesit het.
Dis ook hier waar sy haar man, mnr. Jan Goosen ontmoet het.
Hulle is in November 1943 getroud en vier kinders is uit die huwelik gebore.
Tannie Miems spog met drie kleinkinders wat liefdevol na haar verwys as “Oumie”.
Die afsterwe van haar man in 1972 het ’n groot leemte gelaat.
Tannie Miems het by verskeie sakeondernemings in Ermelo gewerk en ook die pos van huismoeder by een van die koshuise van die destydse Hoër Handelskool beklee.
Van 1963 tot 1983 het sy die NG Moedergemeente se kerkkantoor beman en ook as koster gedien.
Haar dogter, sowel as die personeel en bestuur van die SAVF, het ’n geselligheid gehou om die groot mylpaal te vier en bedank Pick n Pay en Ierma van Burger Springkastele vir die koek en ballonne.