Fouries groet ná 42 jaar
Terwyl oom Jan nog plase gekoop en die boerdery behartig het, het tannie Nellie die slaghuis bestuur
Om tot siens te sê is nie altyd lekker nie, veral nie nadat mens 42 jaar lank gedeel het in die lief en leed van dieselfde gemeenskap nie.
Vir oom Jan en tannie Nellie Fourie het die tyd egter nou aangebreek om die mense van Ermelo en omgewing te groet en hulle te hervestig in ’n aftreedorpie in Pretoria.
Hulle sien uit na die verandering van omgewing en ook om nader aan die kinders en kleinkinders te wees.
Oom Jan en tannie Nellie het in 1972 vanaf Vereeniging na Ermelo verhuis.
Nadat hulle vir sowat 18 maande op die plaas Gemsbokheuwel buite Chrissiesmeer geboer het, het hulle die plaas verkoop en oom Jan het ’n vervoeronderneming wat net lewende hawe vervoer het, op die been gebring.
Daarna het hulle op die plaas Beginderlyn met Brahmane begin boer.
Intussen het oom Jan Fourie Slaghuis, wat tot vandag bestaan, op die been gebring.
Toevallig was dit die 13de slaghuis in Ermelo wat op 13 Februarie 1996 sy deure geopen het.
Terwyl oom Jan nog plase gekoop en die boerdery behartig het, het tannie Nellie die slaghuis bestuur en ook vyf dogters, Christa, Annetjie, Ronel, Sandra en Janet, grootgemaak.
Tannie Nellie onthou die gesellige kuiers saam met vriende en kliënte in die slaghuis.
Al die dogters het aan EHS gematrikuleer en daarna grade aan verskillende universiteite verwerf.
Tannie Nellie het ook baie graag naaldwerk gedoen en al die dogters se trou- en matriekafskeidrokke self gemaak.
Sy is tot vandag toe baie lief vir bak en brou en bring baie tyd in haar kombuis deur.
Oom Jan is ’n boer in murg en been wat al vanaf 14-jarige ouderdom saam met sy pa geboer het en ná skool op sy eie begin boer het. “Daar is so baie mense wat deur die jare vir ons so baie beteken het en dis moeilik om mense uit te sonder, maar ons bedank graag Gerda en Gert Swart en Roux de Jager vir hul spesiale vriendskap.
Dankie ook dr. Anton Kraftt vir sy hulp in tyd van nood. Dr. Frans Boshoff en dr. Piet van Zyl van die Hervormde Kerk, baie dankie vir julle leiding.
Ons dank ook aan ons Hemelse Vader vir al die voorspoed wat ons deur die jare geniet het en steeds ervaar,” het oom Jan en tannie Nellie gesê.
Die egpaar is reeds gevestig in hul nuwe tuiste en is vinnig besig om nuwe vriende te maak.



