CrimeEditor's choiceGeneralNews

Sypadsonde duur voort

Hy het gesien hoe die een weer sy blik oopmaak en ’n sakkie met wit poeier daarin op die grond neergooi en dit ’n paar meter verder wegskop vir die ander man om op te tel.

Drink en dobbel in die openbaar sowel as vermoedelike dwelmgebruik en -handel is algemeen op sekere sypaadjies in die sakesektor van Ermelo.
Baie jare lank was die handel in en misbruik van dwelms in Hollywood-bendeflieks vele Suid-Afrikers se enigste blootstelling aan dié euwel.
Sedertdien het dwelmmisbruik wêreldwyd ’n kopseer geword.
Die probleem is hier in Ermelo ook aan die toeneem waar dwelmsmouse oop en bloot hul goedere op sypaadjies verkoop.
Te midde van Nasionale Jeugmaand en die Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik op 28 Junie, het sakeman mnr. Hein Lamprecht Saterdag beeldmateriaal op sy veiligheidskameras vasgevang van vermoedelik ’n smous wat handel dryf op die sypaadjie voor sy bakkery.
Volgens mnr. Lamprecht, het hy onraad vermoed toe twee mans met mekaar gepraat het en die een iets uit ’n drankbottelhouer gehaal en op die grond laat val het sodat die ander een dit kon optel.
Hy het nader gestap en gemerk dat die twee mans wat nou verder van mekaar gestaan het, met mekaar kommunikeer.
Hy het gesien hoe die een weer sy blik oopmaak en ’n sakkie met wit poeier daarin op die grond neergooi en dit ’n paar meter verder wegskop vir die ander man om op te tel.
Volgens mnr. Lamprecht, het die man met die blikhouer op ’n tydstip die blik op die grond neergesit terwyl hy saam met ’n groep ander mans gedans, gerook en gedrink het.
Terwyl mnr. Lamprecht ’n groep mans op die beeldmateriaal dopgehou het wat besig was om te dobbel en openlik te sit en bier drink, het hy twee jongmans in die agtergrond opgemerk wat met ’n stuk papier vroetel.
Die een man het toe die papier nader aan sy gesig gebring en dit het gelyk asof hy iets daaruit snuif.
Daarna het hy die papier aan sy vriend oorhandig wat die ritueel herhaal het.
Die afwesigheid van die polisie is vir mnr. Lamprecht ’n bitter pil.
Volgens hom, het hy die polisie in kennis gestel, maar hulle het nie opgedaag om ondersoek in te stel nie.
In reaksie op die aanmelding van die situasie aan die polisie twee weke gelede, is hy aangesê om foto’s en beeldmateriaal te kry wat kan dien as bewys.
“Dis so goed ek sê vir jou jy moet jou eie deegballetjies kom rol as jy by my brood wil koop.
“Dis nie my verantwoordelikheid om die polisie se werk vir hulle te doen nie. As ’n saak nie eenvoudig is nie, moet hulle ’n plan maak om die problem op te los,” het ’n ontstelde mnr. Lamprecht gesê.
Volgens die polisiewoordvoerder, kapt. Carla Prinsloo, het die stasiebevelvoerder, kol. Winnie Mavusu, bevestig dat die aangeleentheid ondersoek sal word.
Sy versoek ook die publiek om enige ongerymdhede aan te meld deur 10111 te skakel.
Kol. Mavusu het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die publiek te bedank vir hul ondersteuning.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button