Local newsNews

Amanda skep met suiker en meel

Staan opsy Buddy van TV se Cake Boss ; in haar kombuis is sý die baas en geen koek is vir Amanda Young ’n té groot uitdaging nie.

Staan opsy Buddy van TV se Cake Boss ; in haar kombuis is sý die baas en geen koek is vir Amanda Young ’n té groot uitdaging nie.

Gerald en Amanda het kort ná hul troue in 1978 na Ermelo verhuis waar hulle vandag gevestigde inwoners en ou bekendes is.

Toe Gerald, ’n joernalis by die Hoëvelder, in 1980 ’n advertensie vir ’n koekkursus in die koerant sien, het Amanda niks geweet van koeke nie, nog minder dat sy die eienaar van ’n suksesvolle onderneming sou word.

Amanda bak die afgelope 15 jaar voltyds en is ook, ná drie jaar op ’n waglys, al meer as vier jaar lid van Tuiskoop. Sy spesialiseer in trou- en fantasiekoeke.

Amanda vertel dat sy nooit sou kon dink dat sy ooit ’n koek sou kon bak nie en om een kreatief te versier, nog minder.

Sy geniet elke oomblik van die bakkery en erken dat, hoewel dit baie harde werk is, is die uitdrukking op ’n kind se gesig as hy sy verjaarsdagkoek wat sy gunsteling sprokieskarakter uitbeeld vir die eerste keer sien, meer werd is as al die geld in die wêreld.

Geen geld kan ’n bruid wat vir die eerste keer haar troukoek sien se gesigsuitdrukking koop nie.

Amanda bak enige koek, in enige kleur, geur of vorm, maar haar gunsteling bly steeds troukoeke.

Alle blomme en versierings op die koeke word met die hand gemaak en alles is eetbaar.

Die grootste troukoek wat sy nog gemaak het, was ’n vyflaag-vrugtekoek. Dié koek het 30kg geweeg, uit agt vrugtekoeke bestaan en het vier maande geneem van die meng van die bestanddele tot aflewering.

Amanda sê beplanning is van groot belang en vrugtekoeke moet eers ’n ruk staan voordat dit versier word, anders sal die koek bederf.

Die weer speel ook ’n groot rol en die handgemaakte blomme kan nie gemaak word as dit betrokke is nie, want sodra dit warmer word, sal dit kraak.

As mens deur haar portefeulje blaai, getuig foto’s dat dié nederige vrou baie versteekte talent het en nog groot hoogtes gaan bereik. Van ’n tradisionele Swazi-troukoek met ’n swartpot en kleurvol-versierde lae tot ’n spinnekop, Cars, Hello Kitty, sjokoladeblaarkoek en selfs ’n skoen getuig van haar fyn vakmankap.

Amanda het reeds ’n goeie reputasie opgebou en het al bestellings vir troukoeke uit Sandton en Durban ontvang.

Amanda sê sy moet altyd op hoogte wees van die nuwe modes en neigings en daarom koop sy boeke en tydskrifte oor koeke en gebruik die Internet vir nuwe idees.

Sy sê nooit dat iets onmoontlik is nie – ’n antwoord wat al gesorg het vir menige laat aande se beplanning en probeerslae en min slaap.
Arme Gerald moes ook al bontstaan as dit by die planmakery kom.

Volgens Amanda, sou sy niks bereik het sonder Gerald se toegewyde hulp en ondersteuning nie.

Sy vertel tong in die kies van die dag toe hy ’n verjaarsdagkoek by Tuiskoop moes aflewer en hy die koek laat val het. Gerald was glo daardie dag oortuig sy vrou gaan hom vermoor.

Sy is tans besig om haar assistant, Anna, op te lei om blomme te maak en met fondantversiering te werk. Sy droom daarvan om eendag haar eie bakkey te hê waar sy haar liefde vir dié kunsvorm ten volle kan uitleef.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button