GeneralLocal newsNews

Help Ears om hokke te voltooi

Vier jaar gelede het Ronél van der Merwe as vrywilliger by die EARS-familie aangesluit en ná net drie maande het sy die voorsitterskap oorgeneem. Toe

 

Vier jaar gelede het Ronél van der Merwe as vrywilliger by die EARS-familie aangesluit en ná net drie maande het sy die voorsitterskap oorgeneem.
Toe sy uitvind sy is swanger, het sy haar werk by ’n kwekery bedank, maar by die huis bly was nie vir haar nie. Sy het toe besluit om haar vrye tyd aan die diere te wy.
Hoewel die perseel vir die honde reeds deur Gilbert’s beskikbaar gestel is, het vrywilligers by hul huise na die honde en katte omgesien.
Ronél het op ’n tydstip 41 honde by haar huis versorg.
In Januarie 2012 het EARS ’n R250 000-kontantinspuiting gekry.
Ronél het dadelik te werk gegaan om die perseel wat vir hulle daargestel is, te ontwikkel en hokke te bou vir die 109 honde wat toe sorg nodig gehad het.
Hulle het 43 hokke gebou wat in sewe kampe ingedeel is en die werkers, veeartsrekeninge en die bouers betaal. Met die geld wat oorgebly het, kon hulle sorgeloos vir ’n jaar en ses maande na die diere omsien.
Intussen is daar fondasies vir nog hokke gegooi en daar is ander hokke wat half gebou is. As dié voltooi word, sal daar 80 hokke wees.
Die geld wat maandeliks gegenereer word, is egter net genoeg om na die diere se welsyn om te sien en haar planne om die hokke uit te brei, is vir eers uitgestel.
“Ons kort nog bakstene, draad en skadunet om die volgende 20 hokke te voltooi,” het Ronél gesê.
Sy werk nou saam met die Dierebeskermingsvereniging van Suid-Afrika (DBV) en hoop om in die toekoms ’n geregistreerde DBV-tak te open.
Sy gaan ook binnekort haar kursus by hulle voltooi om ’n inspekteur te word.
Intussen moet sy na al die diere omsien, ’n taak wat sy nie sonder die gemeenskap se hulp kan aanpak nie.
“Ek en die diere is baie dankbaar vir elke skenking en vrywilliger wat ons tot dusver bygestaan het en dit ook in die toekoms sal doen.”
Vir meer inligting of om ’n skenking te maak, skakel Ronél by 083 400 1079 of 083 976 7113.
Lees volgende week meer oor die Hoëvelder se projek wat geloods word ten bate van EARS.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button