Lilly, een van vier babahondjies wat ‘n paar weke gelede bloot oor EARS se heining gegooi is en aan hulle eie genade oorgelaat is, is die enigste een van die werpsel wat dié beproewing oorleef het.
Lilly en ‘n Jack Russell genaamd Trixie is ‘n week gelede deur die Marais-gesin van Ermelo aangeneem.
Hulle albei het hul gou tuisgemaak en Trixie lyk of sy al jare lank deel is van dié gesin.
Lilly se eienaar, Louis, vertel dat Lilly verskrklik maer was en skaars vyf treë kon loop voordat sy eers weer moes lê en dat dit vir haar baie moeilik was om te staan.
‘n Week later het Lilly al ‘n kilogram opgetel, bykans die helfte van haar gewig, sy loop nie meer stert tussen die bene nie en word daagliks sterker.
Lilly is ‘n goeie ambassadeur vir die onbaatsugtige diens wat EARS aan die gemeenskap lewer en is die gesig van die Lilly-projek wat EARS in samewerking met die Hoëvelder vandeesweek loods.
Sy verteenwoordig elke hond of kat wat in EARS se sorg is.
Die doel van die projek is om die gemeenskap aan te moedig om hul harte oop te maak deur maandeliks ‘n bydrae aan EARS te maak.
Sonder die gemeenskap se hulp sal honde soos Lilly en Trixie nie oorleef nie.
Teken vandag nog ‘n debietorder en help ‘n dier in nood.
Net ‘n gereelde R20 tot R50 ‘n maand sal EARS help om hul boeke te laat klop en om die diere se lewe makliker te maak.
EARS se bankbesonderhede is: EARS Ermelo, Nedbank Ermelo, rekeningnommer 151 610 3122, Taknommer 151 644.
Diegene wat nie ‘n debietorder wil teken nie, kan met Ronél, EARS-voorsitter, reël om maandeliks die geld by hulle af te haal.
EARS het ook ‘n groot behoefte aan komberse en hondekos. Skakel Ronél by 083 400 1079 of 083 976 7113 vir meer inligting.
Mense wat graag kos of kombersskenkings wil maak, kan dit ook by die Hoëvelder se kantore in Murraystraat aflaai. Die koerant mag egter nie geld in ontvangs neem nie.




