Dis nie snaaks nie – of is dit?
Logiese verstand sê vir 'n mens as jy nie so ver op die grond kan spring nie, sal jy dit ook nie van die huis se dak af kan regkry nie.
Terwyl die aard van ‘n joernalis werk meeste van mens se vrye tyd in beslag neem, vind ek wel soms tyd om so tussendeur op die webwerwe rond te swerf op soek na… nou ja… nuus en ander stories wat dalk op Ermelo betrekking het.
Die gevolg is dat mens op talle stories en kort video’s afkom waar mense uit hulle pad gaan om pyn en lyding en soms gebreekte bene vir hulself op die hals te haal.
Van die video’s word “Funny Fails” genoem, hoekom sal geen mens weet nie. Ek kan nie dink dit kan snaaks wees vir die kortsigtige drommels wat hul manewales voor die kamera uitvoer om dikwels met kop of gesig eerste met sementblaaie of teerpaaie kennis te maak nie. Dalk het voggies van verskillende grade en hoeveelhede iets daarmee te doen. Hoe sal ek nou weet?
Maar ek moet erken sommige van daai mense wat hulle des dinges val, laat my wel soms giggel, nie oor hul seerkry nie maar oor hul domastrantgeit.
Vat nou die ouens wat probeer om van ‘n huis se dak af in ‘n swembad in te spring.
Logiese verstand sê vir ‘n mens as jy nie so ver op die grond kan spring nie, sal jy dit ook nie van die huis se dak af kan regkry nie. Ook nie voor ‘n kamera nie.
Die knaap wat dink hy gaan met ‘n trapfiets meters ver kan vlieg vanaf ‘n oprit gemaak uit ‘n koelboks se deksel en dan veilig anderkant Tannie Bes se gedekte piekniektafel te lande kom, is nog ‘n voorbeeld van nie te ver dink nie.
‘n Hele hoop moontlikhede van dinge wat verkeerd kan gaan wag op die voornemende “Evil Knievel”.
Ek en jy weet die koelboks se deksel gaan met die opstygslag skuif. Ons weet ook dat te min spoed, te min hoogte en al die ander hoogs tegniese voor-die-hand-liggende faktore gaan veroorsaak dat die toertjie in ‘n hoop piekniekworsies, konfyt-gesmeerde broodjies, rooi koeldrank en gebreekte arms of bene gaan eindig, hetsy Knaap s’n of Tannie Bes s’n, moontlik albei.
As Knaap dit wel sou regkry om hoog en suiwer te vlieg, gaan die landing anderkant veroorsaak dat die trapfiets se wiele gaan meegee want Knaap is nou nie juis ‘n liggewig nie.
Ek moet ook erken dat van die tonele wat so vryelik op die webwerwe te sien is, my wel ‘n klein bietjie innerlike lekkerte verskaf.
Een van die video’s wys hoe ‘n man tot groot vermaak van omstanders ‘n weerlose hond terg en die arme dier herhaaldelik met ‘n stok in die bek slaan. Oubaas se honne spring dan skielik op en hap die verraste man in die gesig.
Nou hoor ek hoe sê tot die saggeaardste tannie “Lekker, man. Dis jou verdiende loon!”
Daarom skaam ek my nie oor die leedvermaak wat in só ‘n geval in my opwel nie.
Hoe dit ookal sy, die video’s bied vermaak vir ons wat daarna kyk, ja, tot die mees preutse onder ons!
En dit leer ons ook ‘n groot, groot lewensles.
“Do not try this at home!”