Dirko weet bloed kan red
Sy lewensverhaal kon anders gewees het, as dit nie was vir die bloed wat hy ontvang het nie.

‘n Motorongeluk in 2011 het Dirko Lourens opnuut laat besef hoe belangrik dit is om bloed te skenk.
Hul reis is destyds kortgeknip toe ‘n koei net ná donker voor hul aankomende voertuig die pad ingestap het.
‘n Botsing was onvermydelik en Dirko wat links voor in die bussie gesit het, het die seerste gekry.
Die ander insittendes kon hulself bevry deur by die vensters uit te klim, maar Dirko was in die voertuig vasgepen.
Sy bobeen was op twee plekke gebreek, sy linkerknie en alles ondertoe vergruis en sy linkerpols gebreek.
Nadat nooddienstepersoneel hom uit die voertuig gesny het, is hy hospitaal toe geneem sodat hy kon stabiliseer.
Sy bloeddruk het tot 65/35 geval en hy is Middelburg toe oorgeplaas waar hy in die intensiewe eenheid opgeneem is.
Dokters het gesukkel om sy rooibloedseltelling op te kry na agt (‘n gesonde man se telling is gewoonlik 15).
Op ‘n tydstip is gevrees dat hy sy been mag verloor, maar danksy ‘n bloedoor-tapping is dit verhoed.
Dirko het ses operasies ondergaan en het gedurende dié tyd agt eenhede bloed ontvang.
Hoewel hy vandag nog met penne in sy been loop, oefen hy daagliks en is hy voor in die ry met sy rolskaatse by die weeklikse wiele-aand.
Sy lewensverhaal kon anders gewees het, as dit nie was vir die bloed wat hy ontvang het nie.
Dit was nie die eerste keer dat Dirko se lewe deur die Suid-Afrikaanse Bloedoortappingsdienste (SABD) geraak is nie.
Sy seun wat in 2004 vroeg gebore is en skaars 900g geweeg het, moes dringend twee eenhede bloed ontvang.
Dirko wat self al van 1996 ‘n skenker is, het die twee eenhede wat sy seun benodig het, geskenk.
Sy lewe is twee keer positief deur bloednood geraak en hy moedig almal aan om bloed te skenk en ‘n verskil in ‘n ander se lewe te maak.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



