Tweede slagoffer van plaasaanval sterf
Albei slagoffers is wreed aangerand.
Die tweede slagoffer van ’n plaasaanval in die Panbult omgewing in Mpumalanga Saterdag middag het Dinsdagoggend aan haar beserings beswyk.
Vroeër is mnr. Bernardus Johannes (Bernie) van Zyl, (84) ‘n boer van die plaas Geelhoutboom naby Panbult Saterdagmiddag op sy plaas deur ‘n onbekende aantal aanvallers wreed aangerand en vermoor.
Sy vriendin, me. Charlotte Giddy, (58) is ook erg aangerand en is met veelvuldige beserings in ‘n hospitaal op Ermelo opgeneem. Sy het Dinsdagoggend aan haar beserings beswyk.
Volgens mnr. Henry Geldenhuys, Adjunk President van TLU SA en Nasionale voorsitter van Veiligheid TLU SA, het me. Giddy omstreeks 16:45 ná ‘n dag-uitstappie tuis gekom en is deur ‘n man wat bekend is aan haar genader.
Die man, ‘n kontrakwerker woon op die plaas maar was nie in diens van mnr. van Zyl nie.
Die man het gesê hy is honger en toe me. Giddy hom brood aangebied het hy haar krukke gegryp en haar daarmee geslaan.
‘n Tweede verdagte het vermoedelik ook tot die aanval toegetree.
Dit blyk dit dat mnr. van Zyl reeds vroeër aangerand en vermoor was.
Me. Giddy kon daarin slaag om alarm te maak nadat sy haar bewussyn herwin het en het op die radio om hulp geroep.
Lede van die omgewing se plaaswag en polisie is in die gebied ontplooi en lugsteun is deur twee vliegtuie verskaf. Teen laatmiddag is minstens een verdagte in hegtenis geneem.
Gesteelde goedere asook twee wapens is teruggevind.
‘n Tweede verdagte was teen druktyd steeds soek.
Mnr. Geldenhuys het sy dank en waardering uitgespreek teenoor die boergemeenskap en almal wat met die soektog na die verdagtes gehelp het.
Hy het gesê danksy die vinnige en goed georganiseerde optrede van die betrokkenes kon daar ‘n deurbraak in die saak gemaak word.
“Boere het van oral oor opgedaag, paaie afgesper en gehelp met die soektog na die verdagtes. Daar was binne enkele minute ook lugsteun deur twee vliegtuie verleen.
Ons is verheug dat minstens een van die verdagtes aangekeer is,” het hy gesê.
Die verdagte in die moordsaak het Dinsdag in die landdroshof op Piet Retief verskyn.
Mnr. van Zyl het op 8 Junie 2013 ‘n soortgelyke aanval oorleef toe hy deur ‘n onbekende aantal aanvallers op sy plaas aangerand is.
Hy is deur sy vriendin in ‘n bebloede toestand op sy bed gekry en is destyds met erge beserings in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem.
‘n Roudiens vir mnr. van Zyl sal Vrydagoggend om 11:00 in die Ermelo Christian Family Fellowship (de Bruinstraat 92) plaasvind.
Begrafnisreëlings vir me. Giddy was nog nie teen druktyd bekend nie.
For free breaking and community news, visit our websites:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
Like our Facebook page and follow us on Twitter.
For news straight to your phone invite us:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590




