Voormalige burgemeester oorlede
As erkenning vir sy bydrae tot die bevordering van rugby op Ermelo en die Hoëveld, het die stadsraad die AJ Swanepoel sportstadion na hom vernoem.

‘n Voormalige burgemeester en oud-onderwyser van Ermelo wat ook ‘n bekende rugby-administrateur was, mnr. AJ Swanepoel, is verlede week op Vryburg oorlede.
Swannie, soos hy algemeen bekend was, was van 1952 tot 1963 ‘n inwoner van Ermelo toe hy aan die onderwyspersoneel van die EHS verbonde was.
As bekwame rugby-administrateur het hy ‘n baie belangrike bydrae tot dié sport op skole- en senior vlak veral in Suidoos-Transvaal gelewer.
Hy was ook twee seisoene president van Ermelo-rugbyklub en van 1958 tot 1962 president van die Suidoos-Transvaalse Rugby-subunie.
Swannie het hom as ‘n bekwame skeidsregter op skole- en senior vlak onderskei.
Sy gemeenskapsdiens was nie net tot rugby beperk nie.
Hy was onder meer stadsraadlid en in die ampsjaar 1958/59 burgemeester van Ermelo.
As erkenning vir sy bydrae tot die bevordering van rugby op Ermelo en die Hoëveld, het die stadsraad die AJ Swanepoel sportstadion na hom vernoem.
Nadat hy na Pietersburg verhuis het, was hy onder meer die eerste sekretaris van die Verre-Noord-rugbyunie.
Van 1970 tot 1981 was hy hoof van die Hoër Tegniese Skool Wolmaransstad en van 1982 tot 1988 hoof van Hoërskool Volksrust.
Swannie het sy laaste lewensjare op Vryburg deurgebring.
Hy word oorleef deur sy vrou, Enid, twee seuns, een dogter, kleinkinders, asook drie agterkleinkinders.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



