Boerdey wen saak teen munisipaliteit.
Versuim om by die bepalings van die hofbevel te hou of dit uit te voer, kan lei tot ’n aanklag van minagtig van die hof teen Msukaligwa se munisipale bestuurder.
Die Msukaligwa munisipaliteit is volgens ’n onlangse hofbevel van die hoogeregshof in Pretoria ’n week gegun om die Davel-rioolaanleg te herstel en daarna behoorlik in stand te hou.
Volgens hofstukke wat die Hoëvelder bekom het kan versuim om by die bepalings van die hofbevel te hou of dit uit te voer, lei tot ’n aanklag van minagtig van die hof teen Msukaligwa se munisipale bestuurder. Die tydperk het verlede Dinsdag verstryk.
Die uitspraak kom nadat die eienaars van die bekende Janvos Landgoed-boerdery, dr. Vos Grey en Jan Grey van die bekende Janvos Landgoedboerdery die hof genader het nadat grootskaalse besoedeling vanaf die nabygeleë
Davel-rioolwerke ’n dam op Hamelfontein,’n gedeelte van hul grond besmet het. Onverwerkte riool vloei vanuit die aanleg en beland in die dam, die hoofwaterbron van boerderyaktiwiteite op die landgoed.
Onbesmette, skoon, drinkbare water is van uiterste belang vir die onderneming aangesien die omvangryke boerdery ondermeer oor n kudde van bykans 500 melkbeeste beskik en is een van die grootse leweransiers van melk in die streek is. Daarby word daar op groot skaal geboer met skape, vleisbeeste en gesaaides soos mielies en sojabone. Gedeeltes van die landerye is onder besproeing.
Damme op plase verder stroomaf word ook deur die toedrag van sake nadelig geraak.
Daar word gevrees dat die boerdery erge finansiële vreliese kan lei of selfs tot niet sal gaan indien die gehalte van melk, vleis en gesaaides weens die besmette water versleg en kontrakte van maatskappye aan wie daar voorsien word beëndig word.
Volgens mnr. Conrad Botha van die prokureursfirma TC Botha Ingelyf wat vir die applikante opgetree het, is dit nie die eerste voorval van rioolbesoedeling op die landgoed nie.
“Die eerste voorval was reeds in Julie verlede jaar. Ek het die departements-hoof van rioolwerke in my eie voertuig Davel toe geneem, aangesien hy nie geld gehad het om die tolhek te betaal nie.
“Daarna het die situasie homself herhaal en on was genoodsaak om die hof met ’n dringende aansoek te nader.”
Mnr. Robert Davel, Hoofbestuurder: Mpumalanga Landbou, het in reaksie hierop gesê die gehalte van water is van krities belang vir die volhoubaarheid van voedselproduksie in SA.
“Die probleem van swak waterkwaliteit kom nie geisoleerd in SA voor nie.
“Swak waterkwaliteit weens nalatigheid deur amptenare bedreig voedselsekuriteit dramaties.
“Die bewering word dikwels gemaak dat landbouprodusente verantwoordelik is vir soveel as 12% van waterbesoedeling.
“Die teendeel word dikwels bewys wanneer spesifieke aanklagte soos dié ondersoek word.”
Hy het egter landbouprodusente versoek om te verseker dat alle regulasies toegepas word om landbou se spoor skoon te hou.
“Volgens wet is die minister van watersake die ‘custodian’ van water as ‘n natuurlike hulpbron. Alle vlakke van owerheid is dus mede-verantwoordelik vir die behoorlike bestuur en bewaring van water,” het mnr. Davel gesê.
“Janvos Landgoed het alles in hulle vermoë gedoen om die probleem op te los alvorens die pad van litigasieproses gevolg is. Dit is egter duidelik dat die politieke wil om waterkwaliteit, regulasies en prosedures toe te pas totaal ontbreek. DWS het oënskynlik ook nie die wil of vermoë om ‘n baie goeie Waterwet toe te pas nie,” het hy gesê.
Mnr. Davel het bygevoeg dat dié uitspraak ‘n baie duidelike boodskap aan amptenare behoort te stuur dat hulle bepaalde verantwoordelikhede het wat gekoppel is aan bogemiddelde salarispakkette en gesê die feit dat die uitspraak alle regskoste vir die Munisipaliteit se rekening gemaak het verblydend is.
“Dit beteken dus dat die belastingbetalers in elk geval die Munisipale Bestuurder aanspreeklik kan hou vir dié regskoste aangesien dit die gevolg is van blatante nalatigheid deur amptenare,”het hy bygevoeg.
Mpumalanga Landbou wil Janvos Landgoed bedank en gelukwens met hulle volgehoue poging om dié saak van moedswillige nalatigheid teen te staan en uit te wys.”
“Ons is van mening dat dié uitspraak ongetwyfeld ’n baie duidelike boodskap aan amptenare sal uitstuur.,” het mnr Davel afgesluit.







