Local newsNews

Oud-LV Moolman Mentz word 90

Hy is die laaste oorlewende LV wat Ermelo verteenwoordig het en een van vier oud-Erries wat parlementslid geword het.

Een van die handjievol oorlewende oud-Erries wat in 1944 gematrikuleer het, mnr. Moolman Mentz, het Woensdag die geseënde ouderdom van 90 bereik.

Talle familielede en vriende het die heuglike gebeurtenis Saterdag by sy oudste seun en skoondogter, Hein en Marietha Mentz, op hul plaas gevier waar almal gesellig verkeer het en gasvry onthaal is.

Met Hein as ‘n pittige seremonie-meester het die verrigtinge te midde van ‘n feestelike atmosfeer in en om ‘n groot tent op die werf seepglad verloop.

Gelukwense namens Moolman se agterkleinkinders, kleinkinders, kinders en vriende is deur Chemené (agterkleindogter), MJ (kleinseun), Molie (seun) en dr. Vos Grey (vriend) uitgespreek.

Moolman het sy stempel as sportman, regsgeleerde, politikus en boer onuitwisbaar op die samelewing afgedruk.

Hy is op Morgenzon gebore en het in 1944 as 16-jarige aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer.

Nadat hy ‘n jaar by ‘n plaaslike koeldrankfabriek gewerk het, is hy na Stellenbosch waar hy die grade B.A. LLB. aan die universiteit verwerf het.

Van die Eikestad het Moolman na Pretoria verhuis waar hy onder meer as senior advokaat gepraktiseer het.

Hy het ‘n aanbod om tot die regbank toe te tree, van die hand gewys omdat hy nie kans gesien het om die doodstraf op te lê nie.

Gedurende die tagtigerjare het Moolman bekendheid as politikus verwerf waarvan sy verkiesing as Volksraadlid vir Ermelo die hoogtepunt was.

Hy is die laaste oorlewende LV wat Ermelo verteenwoordig het en een van vier oud-Erries wat parlementslid geword het.

Die ander drie, Chris de Jager, Daan van der Merwe en Casper Uys, is reeds oorlede.

Moolman het hom as ‘n kranige rugbyspeler onderskei. Hy het twee jaar vir die Erries se eerste span uitgedraf, eers as losskakel en toe as senter.

Op 18-jarige leeftyd het hy vir Ermelo se dorpspan, die Suidoos-Transvaalse Subunie asook ‘n gekombineerde plattelandse span gespeel.

Op Stellenbosch het hy vir die Maties se 0/19- en eerste span uitgedraf.

In Pretoria het hy senior klubrugby gespeel, was lid van die SA Weermagspan en het die Blou Bulle in twee wedstryde verteenwoordig.

Nadat hy as speler uitgetree het, het hy Oostelikes (Pretoria) en Ermelo se dorpspan afgerig.

Met sy terugkeer na Ermelo, het Moolman hom in die distrik gevestig en tot sowat drie jaar gelede op die plaas Swartwater geboer.

Tans woon hy en sy vrou, Mara, wat die afgelope 66 jaar sy getroue steunpilaar is, rustig in hul meenthuis in John Vorsterpark.

Hoewel hy nou rustend is, behou hy steeds sy belangstelling in die boerdery.

Moolman en Mara is met vyf getroude kinders, 12 kleinkinders en sewe agterkleinkinders geseën wat almal die verjaardagfees bygewoon het. (CK)

Related Articles

Back to top button