Dr. Piet van Zyl, leraar van die Hervormde Kerk Moedergemeente ken judo
Deur al sy bedrywighede en gemeentes deur het hy ook nog sy doktorsgraad in Praktiese Teologie verwerf.

Dominees kan nie net altyd preek en ‘n gemeenteleier wees nie.
Dr. Piet van Zyl, leraar van die Hervormde Kerk Moedergemeente, was op sy dae ‘n Suid-Afrikaanse judokampioen.
Piet het al van ses jaar af judo en ook gimnastiek beoefen, maar toe hy voor ‘n keuse gestel is, het hy judo gekies.
Dit was vir hom die regte keuse, want hy het provinsiaal en nasionaal meegeding en was lid van die SA Universiteite-span.
Hoewel hy nasionale kleure gehad het, kon hy weens die destydse politieke situasie en boikotte nie regtig die geleentheid kry om Suid-Afrika vele kere te verteenwoordig nie.
Hy het sorgvry as een van ‘n groot gesin op Schoemansdal naby die Hartbeespoortdam grootgeword.
Sy kinderdae was gevul met hengel in die dam en vry in die natuur lewe.
Hy het sy hoërskoolloopbaan op Brits voltooi. In sy hoërskooljare het Piet dit sterk ooorweeg om regte te gaan studeer, maar het toe nie vir die vereiste Latyn kans gesien nie. In sy gr. 11-jaar het hy teologie as studie-rigting begin oorweeg.
Min het hy geweet dat hy dan Latyn, Hebreeus en Grieks as vakke sou hê.
Hy het hom by die Staatsdienskommissie laat toets, waar daar aan hom gesê is dat hy tegnies aangelê is en liewer ‘n beroep moet volg waar hy met sy hande moet werk.
Hy het egter deurgedruk en die teologiegraad die stryd aangesê.
Intussen het hy nog twee judo-skole ook besit om te help om vir die studies te betaal.
Ná afloop van sy studies, het hy sy twee jaar diensplig in die Polisiekollege gedoen en terselftertyd as leraar opgetree.
Sy eerste beroep was na Klerksdorp waar hy en sy vrou. Irma, 13 jaar gewoon het.
Die egpaar het twee seuns, Petri en Hoffman, wat albei prokureurs is.
Deur al sy bedrywighede en gemeentes deur het hy ook nog sy doktorsgraad in Praktiese Teologie verwerf.
Piet en sy gesin het in 2004 ‘n beroep na Ermelo aanvaar en sê dat hulle baie lekker op dié dorp woon.
Piet is ook altyd gereed vir ‘n uitdaging en staan nie terug as dinge prettig raak nie.
Hy is bekend daarvoor dat hy jaarliks die gemeente uitdaag dat hy sekere snaakse goed sal doen as hulle tydens hul basaar hulle finansiële doelwit haal.
So is hy al in ‘n kruiwa in die straat afgestoot, het hy op die kerk se dak geslaap, op straathoeke gebedel en vir ‘n week elke oggend saam met die kinders in die skoolbanke gesit.
Hy het veral die skoolganery baie geniet en het baie nuwe “maatjies” gemaak.
Hy lei sy gemeente om baie liefdadigheidswerk te doen en menige honger mond is al uit dié gemeente gevoed.
Hoewel hy nou nie meer judo doen nie, het hy nie sy sin vir humor verloor nie en kan daar nog baie pret uit die Hervormde Kerk Moedergemeente verwag word.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.



