In ’n vreemde land waar sy aanvanklik nie die taal verstaan het of kan praat nie, het die 28-jarige Kaylee van der Merwe die afgelope 18 maande in Suwon by ’n Privaat Akademie in Korea vir vyfjariges geleer Engels praat.
Sy neem nou ’n ruskans van twee maande in Suid-Afrika voor sy weer na Korea terugkeer en die Hoëvelder het in Ermelo saam met haar gekuier om meer van dié ervaring te hore te kom.
Kaylee is in Johannesburg gebore en het in haar gr. 2-jaar na Ermelo verhuis waar sy later aan Ligbron Akademie vir Tegnologie gematrikuleer het.
Daarna het sy haar BSC Landbou-graad deur Unisa verwerf en in Krugersdorp as landboukundige gewerk voor sy besluit het om Korea toe te gaan.
Jy moet ’n graad hê om te kwalifiseer en sy moes eers ’n vier week lange taalkursus in Johannesburg voltooi voor sy oorweeg is vir dié werk.
Op ’n vraag waarom sy haar vriende en familie agtergelaat het om Korea te te gaan, het sy geantwoord dat sy gevoel het sy wil ’n verskil in iemand se lewe maak en nie ’n selfsugtige lewe lei nie.
Sy het met vriende gesels wat reeds die ervaring gehad het, die voor- en nadele teen mekaar opgeweeg en van daar af was dit makliik om op te pak en die skuif te maak.
Haar woonplek is naby die akademie waar sy werk en alles is binne loopafstand van haar woonstel. Sy beleef die stadsopset as baie gekompakteer.
Openbare vervoer is baie betroubaar en sy kom volgens haar baie maklik oor die weg en voel selfs saans veilig in die strate van Korea.
Die stad het ’n besige naglewe en die mense kuier maklik tot vroeg in die oggendure.
“Kos is baie bekostigbaar in dié land, jy betaal ook nie buitensporig vir mediese sorg nie en dit is ’n bonus dat daar in die maande wat sy daar woon, nog nooit ’n kragonderbreking was nie.
“Om uit te eet is nie ’n luukse nie en self die straatkos is baie lekker,” het sy bygevoeg.
Die Koreane gebruik min elektristiteit en gebruik meeste van die tyd gas en selfs die lugreëling en binneshuise verwarming wat noodsaaklik is in ’n omgewing waar die somers warm en bedompig is en dit in die winter die kwik by -16 grade kan laat gaan draai, gebruik gas.
Dit was aanvanklik vir haar vreemd dat tot toiletsitplekke in die winkelsentrums en restuarante verhit word.
“Google translate” en gebare het baie vinnig deel van kommunikasie geword en as niks anders werk nie, roep sy die hulp van ’n tolk nader.
Die eerste nege maande was dit vir haar baie alleen, maar sy het selektief goeie vriende gemaak en kuier nou graag saam met hulle.
Met die kinders mag daar net Engels gepraat word. Sy is net verantwoordelik om kinders dié taal aan te leer en die res word deur Koreane hanteer. Haar visa laat haar net kommunikasie toe.
Sy leer hulle speel-speel en span graag musiek en danspassies in om haar taak makliker te maak. Begripstoetse word gereeld gedoen en leerders moet in vol sinne kan Engels praat.
Elke maand word daar volgens ’n ander tema onderrig en sy gebruik haar blaaskanse in die middag wanneer ander aktiwiteite plaasvind, om voor te berei.
Haar gebroke Koreaans word gebêre vir wanneer sy met haar vriende kuier.
Kinders word met busse aangery skool toe, anders as in Suid-Afrika waar ouers hul kinders by die skool aflaai. Die kinders se skooldag eindig eers in die aand.
Dit is vir haar ‘n belewenis dat Koreaanse ouers nie baie by hulle kinders se skoollewens betrokke is nie, maar wel baie moeite doen om die kinders aan ander kulture bloot te stel en vandaar die lang dae.
Sy self het op haar beurt weer baie min met die ouers te doen en daar word ’n Koreaan gebruik om met die ouers te kommunikeer.
Dié land se mense is toegewyd en werk baie hard. Landgenote wat Engels magtig is, dwing baie respek af.
“As ek vroeër geweet het wat ek nou weet, het ek meer Engels gepraat en selfs in Engels onderrig ontvang,” het sy gesê. Sy het beklemtoon dat ouers hul moedertaal vrylik kan gebruik maar kinders aan Engels moet blootstel.
Feite wat vir haar interessant is, is dat selfmoordstatistieke van die hoogste in die wêreld is. Die Koreane dink dis onbeskof om ’n fooitjie aan kelners te gee en glo dat ’n baba op die dag van sy geboorte reeds ’n jaar oud is. Hulle kategoriseer mense ook volgens lengte, bloedgroep en ouderdom.
Sy beleef die koffiewinkels as interessant en geniet die buitengewone temas waarvolgens die binneshuise versiering gedoen is. Sy verwyl graag haar tyd daar.
Dwelms is ’n groot taboe en oortreders word swaar gestraf. Koreane glo ook glad nie aan lyfstraf nie en is baie beheersde mense.
Tegnologie maak die lewe vir dié land se mense baie makliker en selfs in die busse het pendelaars toegang tot vinnige en gratis Wi-Fi.
Sy bly ook in voeling met vriende en familie in Suid-Afrika deur middel van Twitter, Instagram en Facebook. Met haar ouers whatsapp sy graag.
Die natuurlewe in Korea is volgens Kaylee pragtig en sy geniet die staproetes. Die mense van dié land stap graag en word beloon met afslag op sekere produkte of dienste as hulle ’n gesonde leefstyl handhaaf.
‘n Graad in Biotegnologie deur Unisa is in haar onmiddellike visier omdat sy voel die kwalifikasies wat sy nou het haar beperk maar vir eers wag die kuier in haar eie land en nog Koreaanse kinders wat daarna moet leer Engels praat.



