Local news

Vyf jaar ná ernstige ongeluk is Daniel ’n gesonde Graad 1-seun

Vyf jaar nadat ’n fratsongeluk sy lewe as tweejarige verander het, is Daniel Kerswell vandag ’n gesonde sewejarige wat vanjaar sy eerste tree in Graad 1 gegee het.

ERMELO – Vyf jaar gelede het sy ouers gevrees dat hulle hul tweejarige seuntjie sou verloor nadat hy ernstig in ’n fratsongeluk by hulle huis beseer is.

Vandag jaag die sewejarige Daniel Kerswell met sy fiets rond, skop bal saam met sy pa en boetie en het vanjaar sy eerste tree in Graad 1 gegee.

Vir Paul en Danelle Kerswell is elke dag met hul seuns egter allesbehalwe vanselfsprekend. Agter Daniel se skaam glimlag en eindelose energie lê die herinnering van 5 September 2021 wat die gesin se lewe binne sekondes verander het en die lang pad van vrees, hoop en herstel wat daarop gevolg het.

Ten tyde van die voorval was Danelle en haar twee seuns besig om ontbyt te maak, en haar man was op pad om te ry.

“Toe ek opkyk, was Daniel weg en toe ek uithardloop, het hy bewusteloos agter die kar gelê,” het sy destyds vertel.

Daniel is in die hospitaal opgeneem met ’n gebreekte regtersleutelbeen, ’n besering aan sy heup en ernstig beseerde longe. Sy gesig was gekneus en hy het ook ’n groot sny aan sy maag gehad.

Hy is onder verdowing geplaas en aan ’n ventilator gekoppel sodat sy longe kon herstel.

Daniel Kerswell nadat hy op 5 September raakgery is. Foto | Verskaf/Danelle Kerswell


Vir die gesin was een van die moeilikste goed wat hulle al ooit moes doen om Daniel in die hospitaal agter te laat.

“Om hom net elke tweede dag te kon sien, omdat dit Covid was, en hom dan terug in sy kot te sit en om te draai en te loop, te hoor hoe hy sy mamma en pappa roep en jy kan hom nie saam huis toe vat nie, het my hart elke dag opnuut in 10 miljoen stukkies gebreek.”

Op 21 September 2021 is Daniel uit die Steve Biko-hospitaal in Pretoria ontslaan.

Die eerste jaar ná die ongeluk was vir die gesin uiters moeilik. Daniel het swak geslaap, dikwels wakker geskrik en vreesbevange na sy ouers se kamer gehardloop.

Hy het ook ná die ongeluk episodes gehad wanneer hy homself seergemaak en so hard gehuil het dat hy ophou asemhaal het. Sy lippe het soms blou geword en hy het by geleentheid flou geword indien sy ouers hom nie betyds kon help nie.

“Ons moes altyd sy bors vryf en in sy gesig blaas. Sy ouboet het dadelik alarm gemaak as dit gebeur het en vir ons geskree, ‘Help, boetie het seergekry en haal nie asem nie’. Ek onthou hy het ’n paar keer flou geraak as ons nie vroeg genoeg by hom kom nie. Dit was ’n vreeslike ervaring en ons het so in vrees geleef.”

Die gesin is deur Daniel se pediater, wat hom op die dag van die ongeluk gehelp het, gerus gestel dat

Daniel dié episodes mettertyd sou ontgroei – iets wat uiteindelik gebeur het.

Die gesin het hom ook ná die ongeluk na ’n spelterapeut geneem om hom te help verwerk wat hy moontlik kon onthou en om na sy emosionele welstand om te sien.

Vandag is Daniel se lewe heelwat anders.

Daniel Kerswell is vandag ’n gesonde, vriendelike sewejarige seun. Foto | Verskaf/Danelle Kerswell

Hy het vanjaar met Graad 1 begin en word deur sy ma beskryf as ’n liefdevolle, sagte en baie skaam seuntjie.

Hy is versot op karretjies en kan urelank daarmee op die mat speel. Hy hou van fietsry, balskop saam met sy boetie en pa, buite speel, verf en klei.

Hy het ook vanjaar atletiek en rugby begin speel.

“Hy doen alles waarvoor ’n gesonde seuntjie van sewe lief is. Niks hou hom terug nie.”

Een van die herinneringe wat vir Danelle uitstaan, is die dag toe hulle Daniel ná sy hospitalisasie kon huis toe neem.

Sy onthou hulle het vir hom ’n roomys gekoop en hy en sy pa het op die bank gesit en stories kyk.

“Sy ogies het sommer so toegegaan van lekkerte. Hy het sy voetjies doodtevrede teen mekaar gevryf. Ek kon my verkyk aan hom. Ek wou hom nie ’n oomblik los nie.”

Die Kerswell-gesin sê hulle sou nie deur die moeilike tyd kon kom sonder die ondersteuning van familie, vriende en die Ermelo-gemeenskap nie.

Tydens Daniel se behandeling het die gesin by Danelle se skoonsuster, sowat 20 kilometer van die hospitaal, gebly. Daniel se ouer broer het vir ’n ruk by familie en vriende gebly, terwyl ander familielede na die gesin se huis en diere omgesien het.

Die gemeenskap het ook sonder skroom ingespring en geld ingesamel wat die gesin met hulle mediese uitgawes gehelp het.

“Ons is steeds dankbaar vir elke oproep, omgee, boodskap en gebed wat ons deur die ongelooflike moeilike tyd gedra het.”

Die ongeluk het volgens Danelle die gesin se perspektief op die lewe verander. Dit het hulle geleer om dankbaarder te wees vir elke nuwe dag, vir gesondheid en vir die feit dat die toekoms nie vanselfsprekend is nie.

Sy hoop ander ouers sal ook die belangrikheid van versigtigheid onthou, veral wanneer voertuie rondom die huis verskuif of uitgetrek word.

“Moet nooit sê: ‘Dit sal nooit met my gebeur nie’.”

As sy vandag vir die ouers van vyf jaar gelede ’n boodskap kon gee, sou dit wees om te onthou: “Dit was net ’n ongeluk, hou op julself verwyt, vertrou en glo in God, moenie moed opgee nie. Let go and let God,” het sy afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button