ERMELO – Hoërskool Ermelo se matriekleerders het op 28 September die voorreg gehad om hul matriekjaar op ‘n stylvolle wyse by Perdekraal af te sluit.
Die geskenke, keurige dekor, geurige kos en unieke vermaak, en onder andere ‘n barista, het getuig van die stylvolle klas waarvoor die Erries so bekend is.
Elke ouer en onderwyser wat betrokke was by die reëlings van die geleentheid het dit hul prioriteit gemaak om elke matriekleerder spesiaal te laat voel.
Die gr. 12-leerders het tydens die modeparade wat voor die amptelike afskeid op die skoolterrein plaasgevind het, met hul pragtige uitrustings gespog.
Die afskeidsboodskap van 2021 se presidente, Arend Fourie en Anke de Kock, asook dié van die hoof, mnr. Pieter Grobler, het gespreek van hegte bande wat oor ‘n tydperk by EHS gevorm is.
Mnr. Grobler het gesê: “Mag julle toekoms vir elkeen onbeskryflike seën inhou, en dankie vir die spore wat julle by EHS nalaat.”



