ERMELO – Ermelo Hoërskool het op 18 Oktober sy jaarlikse baadjieseremonie vir volgende jaar se gr. 12-leerders gehou.
Dié spesiale funksie behels die oorhandiging van EHS se kenmerkende streepbaadjies.
Die leerders het op ’n erekode geantwoord, waarna hulle op die verhoog gestaan het en hulle ouers die geleentheid gekry het om die gewone groen baadjie met die streepbaadjie te vervang.
Die simboliese waarde agter die baadjies is iets wat die Erries ná aan die hart lê, omdat dit daarop dui dat elke gr. 12-leerder die skool as ’n leier verteenwoordig en ’n goeie voorbeeld moet stel, en nie slegs net die Errie-raad nie.
Mej. A. E. Adriani, die eerste skoolhoof van die Uitkomsteskool, het in ongeveer 1917 die breë groen en smal wit kleure voorgestel. Die wit is simbolies vir reinheid en opregtheid, en die groen vir moed en hoop.
Jaarliks word die skoolbybel en die skoolvlag ook tydens dié geleentheid aan die volgende jaar se presidente oorhandig.
Carla Ferreira het die skoolbybel ontvang as simbool van die Erries se geloof met die wens: “Glo in God en glo in die toekoms. Neem dit as ’n lig vir jou pad – ook vir die Erries.”
Die skoolvlag is aan Tiaan Grobler oorhandig as simbool van eenheid met die wens: “Neem dit en bou ’n beter toekoms vir ons skool en ons land.”
Mnr. Pieter Grobler, die skoolhoof, het gesê: “Baie geluk met die mylpaal wat julle bereik het. EHS wens vir elkeen sterkte toe vir die matriekjaar. Mag julle die streepbaadjie en die simboliek daaragter met trots dra.”






