ERMELO – Die gr. R-kleuters van Trapsoetjie Klein Skool het onlangs hul “gradeplegtigheid” tydens ’n jaarafsluitfunksie gehou en het sertifikate ontvang.
Dié Trapsoete het almal “graad gevang” en is nou gereed om ’n nuwe fase in hul jong lewens te betree.
Die plegtigheid is op Hein se Plaas gehou en alle ouers is genooi om die verrigtinge by te woon.
Vooraf kon die kleuters op die klimrame baljaar, ander het treintjie gery in waentjies wat deur vierwielmotorfietse gesleep is, en ’n paar dapperes het hulself selfs op die rug van ’n perd begewe.
Die oorhandiging van sertifikate en kleuters se graduering is deur ’n konsert deur die kleuters en gr. R’e voorafgegaan.
Me. Rozette Fourie, die skoolhoof, het tydens die formaliteite en oorhandiging van die sertifikate, hulle gesalueer en hulle alle voorspoed met hul lewenswandel toegewens.
Hierna het Kersvader, al die pad van die Noordpool en toegerus met geskenke en verrassingspakkies, ’n besoek kom aflê.
Ouers en kleuters kon daarna aan ’n heerlike skaappot smul wat met rys en/of stampmielies, mengelslaai, aartappelslaai en pastaslaai bedien is.
Me. Fourie het ter afsluiting aan die kleingoed gesê sy stuur hulle met ’n geruste hart, want sy stuur Jesus saam met hulle verder op hul lewenspad.
Sy het ook haar dank aan almal wat van die dag ’n sukses gemaak het, uitgespreek.



