NewsSchools

Myburgh Akademie in Ermelo sien uit na jaar vol veranderinge

Hulle is baie passievol daaroor dat die kinders smiddae hulle buitemuurse aktiwiteite kan beoefen en saans opsy gesit word vir familietyd.

ERMELO – Die Myburgh-egpaar, mnr. Jannie en sy vrou, me. Henriëtte het kort na die geboorte van hul derde dogter, wat ernstig siek was, besef dat ’n groot skool buite die kwessie vir haar was.

In 2015 moes sy skool toe gaan en hulle het alle opsies oorweeg, waarna hulle haar in ’n kleiner privaat skool in Ermelo vir gr. RR-jaar ingeskryf het.

Mnr. Myburgh het gesê hul dogter was gaande oor die skool, maar daar was steeds die behoefte aan ’n kleiner klas met meer aandag. Dis hier waar die gedagte aan tuisonderig ontstaan het.

Met me. Myburgh wat ’n geoktrooieerde rekenmeester is en mnr. Myburgh wat voltyds boer, het hulle nie die tyd gehad om dit self te behartig nie.

Hulle het die motorhuis van die huis waar me. Myburgh se besigheid is, in ’n tutorsentrum vir hul kinders omskep en ’n onderwyser aangestel wat die onderrig kon bestuur.

Voor hulle hul oë kon uitvee, was daar 20 leerders by die sentrum, wat nou as die Myburgh Akademie bekend staan.

Met die 20 leerders wat onverwags daar aangesluit het, het hulle nog tutors aangestel, en dit het ook die grootste probleem met tuisonderrig wat, die geleenthede vir kinders om sosiaal te verkeer is, uitgeskakel.

Myburgh Akademie word van volgende jaar in Maart vanaf 20 na 50 kinders in verskeie ouderdomsgroepe vergroot.

Mnr. Myburgh het verder gesê dat die sentrum ook ’n “geen huiswerk”-beleid aangeneem het, waar leerders in die tyd wat hulle by die sentrum is, hul klaswerk, hersiening en eksamenvoorbereiding kan voltooi.

Hulle is baie passievol daaroor dat die kinders smiddae hulle buitemuurse aktiwiteite kan beoefen en saans opsy gesit word vir familietyd.

Mnr. Myburgh het genoem dat hulle tans in die proses is om die huis langs die huidige sentrum te koop en het groot planne vir die sentrum se uitbreidings.

Hulle het bygevoeg dat die huis ook ’n woonstel op die erf het, wat hulle in ’n kafeteria gaan inrig, met onder andere spyseniering wat gekookte etes en daaglikse kosblikkies gaan voorsien.

Op die terrein gaan hulle ook ‘n mini-multi-sportveld (“Astro-baan”) inrig en ’n binnenshuise verhitte swembad.

Met die nuwe uitbreiding, beplan hulle om maandeliks mini-sportbyeenkomste aan te bied, waar enige gesin of besigheid in Ermelo kan inskryf om deel te wees van die pretdag.

Leerders by die sentrum het reeds in 2021 ingeskakel by die “Blue Gecko Youth Sport Academy” wat by Ligbron Akademie vir Tegnologie se sportgronde aangebied word.

As deel van die nuwe sentrum wat in 2022 ontwikkel word, open ’n kommunebehuising met kantoorspasie vir ma’s wat op plase woon en skoolgaande kinders het en met die probleem sit dat hulle nie heen en weer kan reis, terwyl hulle kinders skoolgaan en aktiwiteite het nie.

By die behuising is daar drie gemeubileerde kamers, ’n leefarea, badkamergeriewe, kombuis en kantore wat tot die ouers se beskikking sal wees. Daar is ook nasorg wat by die sentrum vir die jongspan in die middae beskikbaar is.

Die egpaar sien uit na die besige jaar wat voorlê met al die nuwe verwikkelinge by Myburgh Akademie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button