
ERMELO – Tien leerders van Hoërskool Ermelo is onlangs vir die Landsdiens se provinsiale kamp gekies.
Die kamp sal vanaf 29 Junie tot 3 Julie by die Blyde Adventure naby Hoedspruit plaasvind.
Vir leerders om in aanmerking te kom, is daar onder meer na hul bywoning, gedrag en lojaliteit gekyk.
Elke klub mag slegs ’n sekere aantal leerders stuur, en die lede wat daar presteer, sal vir die nasionale kamp in Desember in aanmerking kom.

Die gr. 8-leerders wat gekies is, is Carla Bronkhorst, Franco Gibbens, Mia Macaulay, Chané Oosthuizen, Mary-Janè van der Merwe en Madri van Niekerk. In gr. 9 is Abigail Venter en Tharina Viljoen gekies.
Lisakhanya Sindi in gr. 10 en Isabelle MouTssier in gr. 11 gaan ook kamp toe.
Hoërskool Ermelo se Landsdieners kom elke Woensdag vanaf 15:00 tot 16:00 bymekaar vir ’n aktiwiteit wat op een van die Landsdiens se vier liefdes fokus: liefde vir God, liefde vir jou medemens, liefde vir die natuur en liefde vir arbeid.
“Baie sterkte, Erries. Ons weet dat julle die EHS-vaandel hoog sal laat wapper,” het die skoolhoof, mnr. Pieter Grobler, gesê.