Bejaarde vrou van Ermelo beroof, ACSU trek swendelaars vas
Die voertuig is deur Acsu en lede van die polisie vasgestrek en vier verdagtes is gevind.
ERMELO – ‘n Bejaarde inwoner is op 11 Oktober deur ‘n beweerde swendelary geteiken en van al haar besittings besteel.
Sy sê sy was besig om inkopies te doen toe ‘n vrou haar by die bakkeryafdeling nader en inlig dat sy die wenner van 40% se afslag op haar inkopies is.
Sy het haar gevra om saam met haar te stap en het haar uit die winkel gelok.
“Sy het my buite die winkel aangesê om my besittings by haar te los en na die bestuurder toe gaan vir die afslag,” het die vrou gesê.
Die bestuurder het haar egter ingelig dat hulle geen promosies het nie en dat hulle nie die vrou ken nie.
Die vrou het Acsu Sekuriteit geskakel.
Hulle het dadelik na die sekuriteitskameras se beeldmateriaal gaan kyk en ‘n skermgreep van die voertuig waarin die verdagte gevlug het is op verskeie noodgroepe gedeel.
Daar was vermoed dat die mense in Bethal se rigting gery het.
LEES OOK: Oubaas de Jager skyn lig op vals WhatsApp-boodskap
Oubaas de Jager, Acsu se eienaar, sê dat hulle hul Bethal-tak daarna van die saak verwittig het.
Die voertuig is deur Acsu en lede van die polisie vasgestrek en vier verdagtes is gevind.
Al die slagoffer se items is glo ook teruggewin. Die verdagtes is aan die SAPD Bethal vir verdere ondersoek oorhandig.
“Ek het net na alles gebeur het besef wat ek gedoen het. Ek kon nie glo dat ek wel my besittings aan die vrou oorhandig het of saam met haar gestap het nie.”
Sy het ander inwoners gewaarsku om waaksaam te wees wanneer hulle inkopies doen.



