Oubaas de Jager skyn lig op vals WhatsApp-boodskap
Volgens De Jager hou die 'high-five'-WhatsApp geen water nie.
ERMELO – Daar is tans ’n vals WhatsApp-boodskap wat die ronde doen, waarin beweer word dat Oubaas de Jager van ACSU Sekuriteit mense waarsku oor ’n sogenaamde swendelary op die dorp.
Die boodskap beweer dat groepe vroue ander vroue met ’n high-five benader en hulle dan met ’n middel inspuit, wat hulle blykbaar in staat stel om die slagoffers te oorreed om hul waardevolle besittings te oorhandig.
Hierdie WhatsApp is heeltemal ongegrond en moet as vals beskou word.
Die WhatsApp-boodskap lees:
Hi, Oubaas de Jager het n waarskuwing aan vroue in Ermelo uitgestuur om baie versigtig te wees vir groepe swartvrouens wat vroue probeer high5. Hulle is glo baie vriendelik en as jy terug high5 prik hulle jou met die middel waarmee hulle jou dan kan oortuig om al jou geld, bankkaarte, juweliersware en motorsleutels aan hulle oor te gee. Blykbaar n groot sterk boervrou vandag so met n vriendelike high5 gevang. Wakker wees!
Die verwarring spruit uit ’n werklike voorval wat op 11 Oktober op Ermelo plaasgevind het toe ’n bejaarde vrou deur ’n beweerde swendelaar geteiken is terwyl sy inkopies gedoen het.
Daar is egter geen sprake van ’n priknaald waarmee sy met enige entstof ingespuit is nie.
Sy is eintlik uit die winkel gelok met die voorwendsel dat sy ’n afslag gewen het, waarna haar besittings gesteel is.
LEES OOK: Bejaarde vrou van Ermelo beroof, ACSU trek swendelaars vas
ACSU Sekuriteit, onder leiding van Oubaas de Jager, het vinnig opgetree en saam met die polisie die verdagtes op Bethal vasgetrek.
Al die gesteelde items is teruggevind en die verdagtes is aan die SAPD oorhandig.
De Jager het bevestig dat die ‘high-five’-WhatsApp niks met die werklike voorval te doen het nie en bloot snert is.
“Ons vra dat inwoners paraat bly en nie vir vals boodskappe val nie. Gaan altyd na betroubare bronne om inligting te bevestig voordat jy daarop reageer. Hoewel ACSU al met soortgelyke voorvalle met ’n groep vroue wat ander teiken te doen gehad het, is daar geen waarheid in hierdie ‘high-five’-metode nie,” het hy gesê.



