Ermelo-polisie waarsku oor toenemende hekmotordiefstal
Die polisie waarsku inwoners om hekmotors te beveilig ná ’n skerp toename in plaaslike diefstalle.
ERMELO – Kapt. Carla Prinsloo, die woordvoerder van die plaaslike polisie, het inwoners gewaarsku om ekstra waaksaam te wees nadat ‘n toename in hekmotordiefstal aangemeld is.
Dit is nie die eerste voorval van dié aard op die dorp nie. Prinsloo het in Januarie soortgelyke waarskuwings aan die gemeenskap gerig nadat verskeie hekmotors in die omgewing gesteel is.
Haar raad aan die dorpenaars was: “Inwoners moet dit ernstig oorweeg om hulle hekmotors op unieke maniere te merk, soos om hul besonderhede op ‘n stukkie yster wat aan die motor gemonteer word, te graveer, of dit aan die binnekant van die plastiekomhulsel aan te bring. Hoewel dit nie noodwendig diefstal voorkom nie, maak dit moeiliker vir diefstalbendes om die motors te verkoop.”
Volgens die polisie is die motief agter dié tipe misdaad dikwels om die motors as skrootmetaal te verkoop.
Hoëvelder het in die verlede ook oor praktiese maatreëls wat inwoners self betref berig, soos om die motors met steunarms aan die grond of binne die erf vas te maak, of om ‘n bykomende arm aan die bokant van die hek te installeer om te verhoed dat dit maklik van die spoor gelig kan word.
Die polisie doen ‘n beroep op al die inwoners om versigtigheid aan die dag te lê en enige verdagte gedrag onmiddellik aan te meld.



