Kabeldiefstal kos Suid-Afrika miljarde – publiek betaal die prys
Kabeldiefstal het ’n nasionale krisis geword wat die land se ekonomie, dienste en veiligheid bedreig en inwoners gaan gebuk daaronder.
ERMELO – Kabeldiefstal het ’n nasionale krisis geword wat Suid-Afrika se ekonomie, infrastruktuur en gemeenskappe lamlê.
Volgens AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, kos dié misdaad die land jaarliks tot R10 miljard.
AfriForum, wat landwyd 177 aktiewe buurt- en plaaswagstrukture het, sien die bekamping van kabeldiefstal as ’n kernprioriteit en ontwikkel tans ’n opleidingsmodule om vrywilligers met praktiese kennis toe te rus om dié misdaad doeltreffend aan te pak.
Broodryk sê kabeldiefstal kom landwyd voor, maar veral in Gauteng, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Wes-Kaap. Transnet, Prasa, Eskom, munisipaliteite en selfs plase en fabrieke word geteiken, met strukture naby informele nedersettings wat besonder kwesbaar is.
Hoëvelder het al menigmaal oor plaaslike kabeldiefstal berig, en dit is telkens die inwoners wat die prys betaal, meestal in die vorm van lang kragonderbrekings.
Die mees gesogte teiken volgens Broodryk is koperkabels, weens hul hoë herverkoopwaarde. Aluminium- en telekommunikasiekabels word ook gesteel, hoewel minder dikwels.
In 2022 alleen het Transnet R1,6 miljard aan kabeldiefstal verloor, terwyl Eskom jaarliks verliese van meer as R2 miljard aanmeld.
Meer as 20 000 gevalle word landwyd per jaar aangeteken.
Volgens Broodryk word die algehele impak op die ekonomie tussen R7 en R10 miljard per jaar geskat.
Lees die volledige berig in Hoëvelder.



