24 verdagtes in hegtenis ná onwettige hondjag in Ermelo
Volgens die polisie het die verdagtes beweer dat dit ’n kompetisie was, om te bepaal watter hond die meeste rietbokke kon jag of doodmaak.
ERMELO – ’n Gesamentlike operasie om onwettige jag met honde te bekamp, het op 21 September gelei tot die inhegtenisneming van 24 verdagtes.
Tydens die ondersoek is daar ook beslag gelê op 50 windhonde.
Dié operasie is in samewerking met plaaslike boere, Ermelo polisie, hulle veediefstaleenheid, asook die Dierebeskermingsvereniging (DBV) uitgevoer.
Volgens TLU SA se Oosstreekbestuurder, Ronnie Schilling, is agt van die honde in DBV-bewaring geplaas, terwyl die ander 42 aan hul eienaars teruggegee is onder die voorwaarde dat die honde in die eienaars se sorg moet bly totdat die saak afgehandel is.
Verskeie voertuie wat tydens die onwettige jag gebruik is – waaronder twee minibus-huurvoertuie, twee honde-sleepwaens en ’n ligte afleweringsvoertuig – is ook in beslag geneem.
“Hierdie suksesvolle aksie is ’n duidelike voorbeeld van hoe samewerking tussen boere, wetstoepassers en dierebeskermingsorganisasies ’n groot verskil kan maak,” het Schilling in ’n mediaverklaring gesê.
Hy het bygevoeg dat al die betrokkenes ten volle bewus is van die vereistes en wette wat op hondjag van toepassing is, en die nodige strukture en prosedures wat in plek was, het die gesamentlike poging glad laat verloop.
TLU SA beklemtoon dat dit reeds die tweede groot ondersoek na onwettige jag is wat binne ’n paar weke afgehandel is.
Die organisasie doen ’n beroep op plaaslike gemeenskappe en jagters om verantwoordelik op te tree en seker te maak dat alle jagaktiwiteite binne die raamwerk van die wet plaasvind.
“Ons sien hierdie wen as ’n bewys dat groot sukses behaal kan word wanneer alle betrokkenes saamwerk en die reëls respekteer,” het Schilling gesê.
Volgens lt. kol. Jabu Ndubane, Mpumalanga polisiewoordvoerder, is die verdagtes tussen die ouderdom van 17 en 60 jaar.
Sy het bygevoeg dat die verdagtes na bewering omstreeks 05:00 op die plaas aangekom het, met die honde in die sleepwaens en agterop die ligte afleweringsvoertuig.
“Met die aankoms van die polisie en amptenare van die parkeraad het die verdagtes beweer dat hulle deelgeneem het aan ’n kompetisie om te bepaal watter hond die meeste rietbokke op die plaas kon jag of doodmaak,” het Ndubane gesê.
Verdere ondersoek het aangedui dat die verdagtes van verskeie provinsies afkomstig is, insluitend Mpumalanga, Gauteng en KZN.
Die verdagtes het op 23 September in die Ermelo-landdroshof verskyn op aanklagte van onwettige jag.
Lees die volledige berig in die Hoëvelder.



