AfriForum draai hof toe teen Msukaligwa Plaaslike Owerheid oor verval en wanbestuur
AfriForum het die hof genader om Msukaligwa te dwing om sy pligte na te kom en behoorlike dienslewering aan inwoners te herstel.
AfriForum het eergister by die Mpumalanga Hooggeregshof in Mbombela ’n aansoek ingedien om ’n strukturele interdik teen die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit te verkry, wat die owerheid sal dwing om sy wetlike pligte na te kom en dienslewering aan inwoners te herstel.
Die organisasie voer aan dat jare se finansiële wanbestuur, swak instandhouding en vervalle infrastruktuur die gemeenskappe van Ermelo en omliggende dorpe ernstig raak.
Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld, is die owerheid se pad-, krag- en rioolnetwerke in ’n kritieke toestand.
“Die situasie is onvolhoubaar, en die provinsie se ingryping het tot dusver geen werklike verskil gemaak nie,” sê hy.
Die hofsaak is uitgestel nadat die regter homself moes onttrek weens ’n belangekonflik. Dit sal na verwagting in November hervat word.
Lees die volledige berig in Hoëvelder.



