Crime

70-jarige boervrou van Carolina en werkers aangeval en beroof

'n 70-jarige boervrou van Carolina, is skaars twee maande ná 'n vorige plaasaanval saam twee van haar werkers aangeval.

CAROLINA – Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof, ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer nadat ’n 70-jarige boervrou op haar plaas by Cilliersrust wreed deur gewapende rowers aangeval is.

Die voorval het op 11 Oktober, omstreeks 01:20 plaasgevind.

Die slagoffer, is deur haar aanvallers met ’n ketting vasgebind en haar gesig is met kleefband toegedraai.

Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het vertel dat die polisie onraad vermoed het nadat hulle haar voertuig by ’n spoorlyn opgemerk het.

Dié voertuig het teen ’n hoë spoed verby hulle gery, sonder om by die stopteken stil te hou. Die voertuig was op pad in die rigting van Badplaas.

Die polisie het agterdogtig geraak aangesien hulle die bakkie as dié van die 70-jarige boervrou herken het, en het onmiddellik ‘n jaagtog van stapel gestuur.

“Die lede het meer bekommerd geraak omdat ’n bejaarde vrou nie so sou jaag daardie tyd van die oggend nie,” het Mdhlili gesê.

Terselfdertyd is ander lede na die plaas gestuur om ondersoek in te stel.

By die plaas het die beamptes gevind dat alle hekke van die hoofpad af oop was, asook die motorhuis, maar die huis self was gesluit.

“Die SAPD-lede het probeer om die vrou te bel, haar foon is beantwoord, maar niemand het gepraat nie.”

Nadat hulle ’n naburige boer vir bystand gekontak het om toegang te verkry, het hulle die vrou in die huis op die grond aangetref. Sy was vasgebind en het gebloei.

Die vrou kon aan die polisie vertel dat vier gewapende mans haar en twee plaaswerkers aangeval het.

“Sy het vertel dat toe sy die twee werkers laas gesien het, is hulle deur die gewapende mans geneem.”

Die verdagtes het talle items gesteel, insluitend die Isuzu dubbelkajuit bakkie, ’n selfoon en ’n .38 rewolwer.

Terwyl die polisie nog op die toneel was en mediese hulp vir die beseerde vrou gereël het, het die twee ontvoerde werkers daarin geslaag om die polisie op Badplaas te kontak.

Hulle is later op die Machadodorp-pad gevind en is ongedeerd.

Die gesteelde bakkie is ook opgespoor in Nelspruit deur lede van die White River Flying Squad , nadat ‘n poging deur Barberton SAPD om dit te stop misluk het.

Die verdagtes is steeds op vrye voet en geen inhegtenisnames is nog gemaak nie.

Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan help met die inhegtenisneming van die verdagtes om die Misdaadstopnommer by 08600 10111 te skakel of inligting via die MYSAPSAPP te stuur.

Alle inligting sal vertroulik hanteer word en inbellers kan anoniem bly.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button