R50-omkoopgeld: Ermelo-verkeersbeampte gevonnis
Ermelo-verkeersbeampte word skuldig bevind aan R50-omkoopgeld en kry vyf jaar opgeskorte gevangenisstraf.
ERMELO – ’n Plaaslike verkeersbeampte het gister ’n vyf jaar opgeskorte tronkstraf ontvang nadat sy skuldig bevind is aan die aanvaarding van R50 omkoopgeld.
Thembisile Yende (48) is op 9 Desember deur die Ermelo-Landdroshof gevonnis.
Yende is in 2022 in Ermelo in hegtenis geneem nadat die Valke se Ernstige Korrupsie-ondersoekeenheid in Middelburg ondersoek ingestel het na klagtes van die publiek oor verkeersbeamptes wat onwettig omkoopgeld aanvaar.
Die ondersoek het ’n operasie ingesluit op 30 Maart 2022, waar ’n polisielid R50 moes betaal toe Yende hom stilgehou het oor hy nie nommerplate op sy voertuig gehad het nie.
Yende is op die toneel gearresteer en het later in die hof verskyn.
Die vonnis van vyf jaar tronkstraf is ten volle opgeskort vir vyf jaar, op die voorwaarde dat sy nie aan ’n soortgelyke oortreding skuldig bevind word tydens die opgeskorte periode nie.
Generaal-majoor Nico Gerber, provinsiale hoof van die Valke in Mpumalanga, sê die ondersoek is professioneel uitgevoer. Hy beklemtoon dat die vonnis dien as ’n waarskuwing aan ander wetstoepassers om nie hul werk op die spel te sit nie.
“’n Opskorting vir korrupsie is nie die gewenste uitkoms nie, maar ons respekteer die hof se beslissing,” het Gerber bygevoeg.



