SAPD ondersoek dood van vrou wat half-naak in onbewoonde perseël in Ermelo gevind is
Ambulanspersoneel, SAPD en forensiese dienste was op die toneel. Geen polisie-terugvoer is nog ontvang nie.
ERMELO – Die liggaam van ’n vrou is op 4 Januarie in ’n onbewoonde perseel in Fouriestraat gevind.
Met nooddienste se aankoms op die toneel het hulle op die liggaam van ’n vrou, na raming ongeveer 30 jaar oud, afgekom. Sy is op die toneel dood verklaar.
Volgens bronne was die oorledene ten tyde van die ontdekking half-naak. Sy het sigbare skaafwonde aan haar knieë gehad, asook wonde aan haar arms.
Die presiese oorsaak van haar dood is in hierdie stadium nog onbekend.

Lede van die Ermelo SAPD, plaaslike ambulansdienste en forensiese dienste was op die toneel om ondersoek in te stel.
Hoëvelder het navrae aan die polisie gerig rakende die voorval, insluitend die omstandighede rondom die vrou se dood en of enige verdagtes gesoek word.
Teen druktyd is nog geen amptelike terugvoer van die polisie ontvang nie.
’n Ondersoek is geopen en word voortgesit.



