ACSU trek verdagte vas ná voertuigdiefstal op Amersfoort
Vinnige reaksie deur ACSU en inwoners lei tot suksesvolle inhegtenisname op Amersfoort.
AMERSFOORT – ’n Bakkie van ’n Marshal Night Sekuriteitsdienste is Maandag omstreeks 18:00 voor die FNB-tak gesteel.
’n Plaaslike inwoner het onmiddellik Bester Maree van ACSU Sekuriteitsdienste in kennis gestel en daarna self die voertuig agterna gesit.
Die verdagte het met die bakkie in die rigting van Piet Retief op ’n grondpad beweeg, waar hy verskeie draaie gemaak het om te probeer ontvlug voordat hy naby ’n uitspanwinkel op ’n plaas ingery het.
Die voertuig het daar in ’n sloot beland.
Die verdagte het te voet op die vlug geslaan en inwoners van ’n informele nedersetting op die plaas het saam met ACSU ’n soektog van stapel gestuur.
Met die suksevolle opsporing en inhegtenisname van die man, is Marshal Night Sekuriteitsdienste asook die SAPD ontbied na die toneel.
Maree het gesê: “Ons was bly ons kon hulle bystaan met die suksesvolle inhegtenisname asook die terugvind van die gesteelde voertuig.”



