Municipal

Klagtes oor drank, rommel en lawaai duik weer in Ermelo op

Nuwe foto's en inwoners se klagtes vestig weer aandag op die gebruik van oop terreine in woongebiede.

ERMELO – Klagtes oor harde musiek, openbare drankgebruik en rommel het nou ook in Van Zylstraat opgeduik.

Dit volg ná jare se soortgelyke probleme by ander openbare ontspanningsgebiede op die dorp.

Inwoners naby die voormalige Legends Lodge kla dat ‘n oop stuk grond toenemend as bymekaarkomplek gebruik word, waar voertuie parkeer, musiek gespeel en alkohol glo gebruik word.

Volgens inligting wat die Hoëvelder ontvang het, het mense sowat ‘n maand gelede daar begin saamtrek.

Die samekoms vind glo daagliks plaas en is veral oor naweke ‘n probleem.

Foto’s wat op 8, 9 en 12 Oktober geneem is, toon voertuie op die grasgebied en rommel wat rondlê.

Voertuie staan op ’n oop grasgebied in Van Zylstraat, Ermelo, waar inwoners oor gereelde byeenkomste, lawaai en rommelstrooiery kla.
Verskeie voertuie staan op die oop grasgebied in Van Zylstraat, waar inwoners kla oor harde musiek, openbare drankgebruik en rommelstrooiery. Die foto is op 12 Oktober geneem. Foto: Verksaf

‘n Inwoner het ook op die Facebook-groep Ermelo Gebeurtenis oor die lawaai, rommel en beweerde openbare drankgebruik gekla.

Die Hoëvelder het reeds oor etlike jare oor soortgelyke probleme by Petdam, Ermelo Sport Inn, Veltmanpark en ander openbare ontspanningsgebiede berig.

Petdam is in November 2025 ná volgehoue klagtes gesluit. Die Hoëvelder het daarna berig dat mense na ander gebiede, waaronder Ermelo Sport Inn, begin uitwyk het.

‘n Heining is later met die plaaslike owerheid se goedkeuring en privaat fondse van betrokke sportklubs rondom Ermelo Sport Inn opgerig.

Veltmanpark en ‘n park agter Family Life Church in De Bruinpark het ook voorheen onder rommelstrooiery en openbare drankgebruik deurgeloop.

Die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit het in Oktober 2025 uitdagings met vandalisme, instandhouding en die toepassing van regulasies erken.

Voertuie en verspreide rommel op ’n oop grasgebied in Van Zylstraat, Ermelo, waar inwoners oor gereelde byeenkomste kla.
Voertuie en rommel is op 9 Oktober op die oop grasgebied in Van Zylstraat afgeneem. Inwoners kla oor harde musiek, openbare drankgebruik en rommelstrooiery in die omgewing. Foto: Verskaf

Die jongste klagtes laat opnuut vrae ontstaan oor die doeltreffendheid van bestaande beheer- en handhawingsmaatreëls.

Lees meer oor die vroeëre klagtes by Petdam, die gemeenskap se herstelwerk by Ermelo Sport Inn en die agteruitgang van Veltmanpark in die Hoëvelder se gedrukte uitgawe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button